Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 32:17-28 Bybel vir Almal (ABA)

17. Jakob het vir die eerste slaaf gesê: “As my broer Esau by jou kom en hy vra vir jou wie se slaaf is jy, waarnatoe gaan jy en aan wie behoort hierdie trop diere,

18. dan moet jy vir hom sê: ‘Dit behoort aan Meneer se slaaf Jakob. Dit is ’n present wat hy vir Meneer stuur. Hy kom self ook, hy is agter ons.’ ”

19. Jakob het dieselfde vir die tweede slaaf gesê, ook vir die derde slaaf, en vir al die ander slawe wat agter die troppe geloop het. Hy het gesê wat hulle vir Esau moet sê wanneer hulle hom kry.

20. Hulle moes ook vir Esau sê: “Meneer se slaaf Jakob kom ook, hy is agter ons.”Jakob het gedink: Ek stuur die presente vir Esau, want ek wil hom vriendelik maak. As ek by hom kom, dan sal hy miskien vriendelik wees met my.

21. Jakob het eers die presente gestuur en toe het hy self gegaan. Hy het daardie nag in die kamp gebly.

22. Jakob het in die nag opgestaan. Hy het sy twee vroue, sy twee slavinne en sy elf kinders geneem, en hulle het deur die Jabbok-rivier gegaan.

23. Hy het hulle deur die rivier laat gaan en daarna het hy ook sy diere deur die rivier laat gaan.

24. Jakob het alleen agtergebly. ’n Man het gekom en met hom gestoei totdat dit die volgende dag lig begin word het.

25. Toe die man sien dat hy nie vir Jakob kan wen nie, het hy vir Jakob op sy heup geslaan. Jakob se heup het seergekry, en hy het moeilik geloop.

26. Die man sê toe vir Jakob: “Los my, want dit is amper dag.”Maar Jakob antwoord hom: “Jy moet my eers seën, dan sal ek jou los.”

27. Die man het vir Jakob gevra: “Wat is jou naam?”En hy antwoord: “Jakob.”

28. Die man sê toe: “Jou naam sal nie meer Jakob wees nie, dit sal nou Israel wees. Die naam Israel beteken ‘Jy het met God en met mense gestoei en jy het gewen.’ ”

Lees volledige hoofstuk Genesis 32