Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 30:29-43 Bybel vir Almal (ABA)

29. Toe sê Jakob vir Laban: “Jy weet hoe hard ek vir jou gewerk het en hoe goed dit met jou beeste en skape gegaan het vandat ek hulle oppas.

30. Jy het min skape gehad voor ek by jou begin werk het, maar hulle het baie meer geword. Die Here het jou geseën vandat ek hier gekom het. Maar wanneer kan ek vir my eie huis werk?”

31. Toe vra Laban vir hom: “Wat moet ek vir jou gee?”Jakob het vir hom gesê: “Jy moenie vir my betaal nie, niks nie. Ek sal weer jou skape oppas en na hulle kyk, maar daar is een ding wat jy vir my moet doen.

32. Ek sal vandag tussen al jou skape en bokke deurloop. Ek sal al die bont skape en die skape wat kolle het, apart jaag, saam met al die swart skaap-ramme. Ook al die bont bok-ramme en die bok-ramme wat kolle het. Dit is wat jy vir my moet gee.

33. Dan sal jy kan sien dat ek nie skelm is nie. Wanneer jy later kom kyk watter diere myne is, sal jy maklik kan sien: Al die bokke wat nie kolle het of bont is nie, en al die skaap-ramme wat nie swart is nie, is joune. As jy van daardie diere tussen my diere kry, dan het ek hulle van jou gesteel.”

34. Toe sê Laban: “Goed. Ons sal doen soos jy gesê het.”

35. Maar Laban het toe daardie dag gou al die bont bokke en die bokke met kolle apart gejaag. Hy het ook al die bokke wat wit dele gehad het, en al die swart skaap-ramme vir sy seuns gegee om op te pas.

36. Hy het gesê hulle moet daardie diere wegvat van Jakob, so ver soos ’n mens in drie dae kan loop. Jakob moes Laban se ander skape en bokke oppas.

37. Jakob het toe groen stokke geneem van populierbome, van amandelbome en van plataanbome, hy het dele van die bas afgeskil, sodat daar wit strepe op die stokke was.

38. Hy het die stokke wat hy so afgeskil het, in die waterbakke van die skape en bokke gesit. Hy het die stokke so neergesit dat dit reg voor die skape en bokke was wanneer hulle water kom drink.

39. Wanneer die skape en bokke daar by die stokke gepaar het, dan het hulle gestreepte of bont lammers gekry of lammers met kolle.

40. Jakob het die skaap-ramme apart gehou en hy het die skape en bokke laat kyk na die bont skape en bokke van Laban en na die skape en bokke met kolle. So het Jakob ’n klomp skape en bokke vir homself gekry, maar Laban het niks gekry nie.

41. Elke maal wanneer die sterk skape en bokke wou paar, dan het Jakob die stokke voor hulle in die waterbakke gesit sodat hulle net by die stokke kon paar.

42. Maar as dit swak skape of bokke was, dan het hy nie die stokke in die waterbakke gesit nie. Toe het Laban al die swak lammers gekry, en Jakob het die sterk lammers gekry.

43. So het Jakob baie ryk geword. Hy het baie skape, bokke, slavinne, slawe, kamele en donkies gekry.

Lees volledige hoofstuk Genesis 30