Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 29:9-19 Bybel vir Almal (ABA)

9. Jakob was nog besig om met hulle te praat toe Ragel daar kom met haar pa se skape en bokke. Sy was die skaapwagter.

10. Jakob het sy oom Laban se dogter Ragel gesien met Laban se skape en bokke. Hy het na die put gegaan en hy het die klip afgerol. Hy het vir sy oom Laban se skape en bokke water gegee.

11. Jakob het vir Ragel gesoen en hy het begin huil.

12. Hy het vir Ragel vertel dat hy familie is van haar pa, en dat hy Rebekka se seun is. Ragel hardloop toe huis toe en vertel dit vir haar pa.

13. Toe Laban hoor van sy suster se seun Jakob, hardloop hy na hom toe en omhels hom en soen hom. Laban het hom na sy huis gebring en Jakob het vir Laban alles vertel.

14. Laban het vir hom gesê: “Ons is familie.”Jakob het ’n maand lank by hom gebly.

15. Toe sê Laban vir Jakob: “Jy is familie van my, maar jy moenie vir my verniet werk nie. Sê vir my wat ek jou moet betaal.”

16. Laban het twee dogters gehad. Die oudste dogter was Lea, en die jongste was Ragel.

17. Lea se oë was nie mooi nie, maar Ragel was ’n baie mooi vrou.

18. Jakob het verlief geraak op Ragel. Hy sê toe vir Laban: “Ek sal sewe jaar vir jou werk om jou jongste dogter Ragel te kry.”

19. Laban het gesê: “Goed. Dit is beter dat ek haar vir jóú gee as vir ’n ander man. Jy mag hier by my woon.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 29