Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 28:8-17 Bybel vir Almal (ABA)

8. Hy het besef dat sy pa Isak nie van die meisies van Kanaän hou nie.

9. Toe gaan Esau na Ismael toe. Ismael was Abraham se seun. Esau het ander vroue gehad, maar hy trou toe ook met Magalat, Ismael se dogter. Sy was Nebajot se suster.

10. Jakob het van die stad Berseba na die stad Haran gegaan.

11. Toe die son ondergegaan het, het hy by ’n plek gekom waar hy die nag kon slaap. Hy het ’n klip onder sy kop gesit en hy het aan die slaap geraak.

12. Hy het gedroom dat daar ’n leer op die aarde staan, en die boonste punt van die leer is in die hemel. Die engele van God het op en af geklim teen die leer.

13. Toe kom staan die Here by hom en Hy sê vir Jakob: “Ek is die Here, die God van jou oupa Abraham en die God van jou pa Isak. Hierdie land waar jy nou is, sal Ek vir jou en jou nageslag gee.

14. Jou nageslag sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal nog meer grond kry, na die weste, na die ooste, na die noorde en na die suide. Al die volke van die aarde sal My vra om hulle te seën soos Ek jou en jou nageslag sal seën.

15. Ek sal by jou wees en Ek sal jou beskerm op elke plek waar jy gaan en Ek sal jou terugbring na hierdie land. Ek sal jou nooit los nie totdat Ek gedoen het wat Ek vir jou belowe het. Dit is seker.”

16. Toe Jakob wakker word, sê hy: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie geweet nie.”

17. Hy het bang geword en gesê: “Hierdie plek laat my bang word. Dit is die huis van God, dit weet ek nou, dit is die poort van die hemel.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 28