Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 1:17-31 Bybel vir Almal (ABA)

17. God het hierdie ligte in die hemeldak gesit om lig te gee op die aarde

18. en om in die dag te skyn of in die nag te skyn. Hulle moes lig en donker van mekaar skei. God het gesien dit is goed.

19. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die vierde dag.

20. God het gesê: “Daar moet baie diere in die water wees en daar moet voëls onder die hemeldak vlieg.”

21. God het die groot seediere gemaak, en alles wat in die see lewe. Hy het ook al die verskillende soorte voëls gemaak. God het gesien dit is goed.

22. God het die diere in die see en die voëls geseën. Hy het vir hulle gesê: “Julle moet meer word, en die see moet vol diere wees. Daar moet ook baie voëls op die aarde wees.”

23. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die vyfde dag.

24. God het gesê: “Daar moet baie soorte diere op die aarde wees – mak diere, diere wat kruip en wilde diere.”Dit het toe gebeur.

25. God het die diere op die aarde gemaak, wilde diere, mak diere en diere wat kruip. God het gesien dit is goed.

26. God het gesê: “Kom Ons maak ’n mens wat in ons plek kan regeer. Die mens moet hoof wees oor die visse in die see en oor die voëls in die lug. Hy moet ook hoof wees oor die mak diere en oor die hele aarde, en oor al die diere wat op die aarde kruip.”

27. God het toe die mens gemaak om in sy plek te regeer. Hy het die mens gemaak om in sy plek hoof te wees. Hy het die mense so gemaak dat daar mans en vroue is.

28. God het hulle geseën en vir hulle gesê: “Julle moet baie kinders kry en die aarde vol mense maak. Julle moet hoof wees oor die aarde en julle moet regeer oor die visse in die see, oor die voëls in die lug en oor al die diere wat op die aarde beweeg.”

29. God het gesê: “Ek gee nou vir julle al die plante wat saad dra op die hele aarde, en al die bome wat vrugte en saad dra. Dit is die kos wat julle mag eet.

30. Die gras en die groen plante is kos vir al die wilde diere, vir die voëls en al die ander diere wat op die aarde lewe.”Dit het gebeur.

31. God het toe gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die sesde dag.

Lees volledige hoofstuk Genesis 1