Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 1:9-22 Bybel vir Almal (ABA)

9. Koningin Vasti het ook vir die vroue genooi om te kom eet in die paleis van koning Ahasveros.

10. Op die sewende dag van sy fees het die koning vrolik gevoel van die wyn. Hy het die sewe manne geroep wat in die paleis vir hom gewerk het. Hulle was Mehuman, Bisseta, Garbona, Bigta, Abagta, Setar en Karkas.

11. Die koning het gesê hulle moet vir koningin Vasti na hom toe bring, en sy moet haar kroon op haar kop dra. Hy wou vir al die amptenare en vir al die mense wys hoe mooi sy is. Sy was ’n baie mooi vrou.

12. Maar koningin Vasti wou nie kom toe die koning haar laat roep het nie, en die koning het kwaad geword, baie kwaad.

13. Hy het gepraat met die slim mense wat vir hom gehelp het om te besluit, want die koning het altyd vir die mense wat die wette geken het, gevra wat hy moet doen.

14. Die sewe amptenare van Persië en Medië was naby die koning. Hulle was Karsena, Setar, Admata, Tarsis, Meres, Marsena en Memukan. Hulle was die belangrikste amptenare in die land en hulle kon self met die koning praat.

15. Die koning het vir hulle gevra: “Wat sê die wette, wat moet ek doen met koningin Vasti? Sy het nie geluister toe ek die manne gestuur het om haar te roep nie.”

16. Memukan het vir die koning en die amptenare gesê: “Koningin Vasti het verkeerd gedoen teen die koning, en sy het ook verkeerd gedoen teen al die amptenare en teen al die mense in die provinsies van die koning.

17. Al die vroue sal hoor wat die koningin gedoen het en hulle sal dink hulle mans is nie belangrik nie. Hulle sal sê: ‘Koning Ahasveros het vir koningin Vasti laat roep, en sy het nie gekom nie.’

18. Die vroue van die leiers van Persië en Medië wat hoor wat die koningin gedoen het, sal vandag dieselfde sê vir hulle mans, daardie vroue sal dink hulle mans is nie belangrik nie, en dan sal hulle mans baie kwaad word.

19. As die koning dink dit is reg, dan moet jy dit vandag sê, en jy moet ’n wet laat skryf in die wette van Persië en Medië. Die wet moet sê dat Vasti nie weer by jou mag kom nie. En jy moet ’n ander vrou kies en jy moet haar koningin maak, ’n vrou wat beter is as Vasti.

20. As die mense in al die lande waaroor die koning regeer, hoor wat die koning gesê het, dan sal elke vrou haar man respekteer, dit maak nie saak of die man belangrik of onbelangrik is nie.”

21. Die koning en die amptenare het gesê dit is goed, en die koning het gedoen wat Memukan gesê het.

22. Die koning het gesê hulle moet briewe stuur na elke provinsie, en hulle moet die skrif en die taal gebruik van die mense van daardie provinsie. Die koning het gesê dat elke man die hoof moet wees in sy huis en dat hy moet doen wat die mense van sy volk gewoonlik doen.

Lees volledige hoofstuk Ester 1