Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 4:1-10 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die vyande van die mense van Juda en Benjamin het gehoor dat die mense ’n tempel bou vir die Here, die God van Israel. Dit was die mense wat teruggekom het uit Babel.

2. Die vyande het na Serubbabel en die familiehoofde toe gekom en vir hulle gesê: “Ons wil saam met julle bou, want ons dien ook julle God, en ons offer vir Hom vandat koning Esar-Haddon van Assirië ons hiernatoe gebring het.”

3. Maar Serubbabel en Jesua en die ander familiehoofde het vir hulle gesê: “Julle mag nie saam met ons die tempel bou nie. Ons wil dit alleen bou vir die Here, die God van Israel. Koning Kores van Persië het gesê ons moet dit doen.”

4. Maar toe het die mense van die land probeer om die mense van Juda moedeloos en bang te maak om te bou.

5. Hulle het raadgewers van die koning betaal om die planne van die Judeërs te stop. Hulle het aangehou om dit te doen die hele tyd terwyl Kores en Darius konings van Persië was.

6. En toe Ahasveros koning word, het hulle ’n brief geskryf en hulle het die mense van Juda en Jerusalem beskuldig.

7. In die tyd toe Ahasveros koning was, het Bislam, Mitredat, Tabel en ander amptenare saam met hulle vir koning Ahasveros van Persië ’n brief geskryf. Hulle het die brief in die Aramese taal geskryf.

8. Die hoof-amptenaar Regum en die sekretaris Simsai het ook vir koning Ahasveros ’n brief geskryf en slegte dinge gesê van Jerusalem.

9. Dit was die hoof-amptenaar Regum en die sekretaris Simsai wat die brief geskryf het saam met die regters en die ander amptenare, mense van die stede Erek, Babel en Susan in die land Elam,

10. en ander mense wat hier in die stede van Samaria en die provinsie Wes-Eufraat kom woon het nadat die groot en belangrike koning Assurbanipal hulle hiernatoe gebring het.

Lees volledige hoofstuk Esra 4