Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 10:1-9 Bybel vir Almal (ABA)

1. Terwyl Esra gebid en bely het, het hy gehuil en op die grond gaan lê voor die tempel. ’n Klomp mans en vroue en kinders het by hom kom staan. Ja, die mense het baie hard gehuil.

2. Sekanja seun van Jegiël, van die Elam-familie, het begin praat. Hy het vir Esra gesê: “Ons was ontrou aan ons God. Ons het getrou met vroue wat nie Israeliete is nie, hulle is mense van hierdie land. Die dinge het gebeur, maar ons kan nog hoop dat God dit goed sal laat gaan met Israel.

3. Ons moet nou vir ons God belowe dat ons al hierdie vroue en hulle kinders sal wegstuur. Meneer en almal wat die wette van ons God respekteer, moet dit besluit. Ons moet doen wat die Here wil hê.

4. Esra, jy moet opstaan, want dit is jý wat hierdie ding moet doen. Ons is by jou en ons sal jou help. Jy moet sterk wees en jy moet dit doen.”

5. Esra het opgestaan en hy het vir die leiers van die priesters en Leviete en al die ander Israeliete gesê hulle moet belowe dat hulle sal doen wat Sekanja gesê het. Hulle het dit belowe.

6. Esra het weggegaan van die tempel en hy het gegaan na die kamer van Joganan seun van Eljasib. Hy het daarnatoe gegaan, maar hy het nie geëet of gedrink nie, want hy het gerou omdat die mense ontrou was, die mense wat gevangenes in Babel was en wat teruggekom het.

7. Hulle het ’n boodskap gestuur na almal in Juda en Jerusalem. Hulle het gesê die mense wat teruggekom het uit Babel, moet bymekaarkom in Jerusalem.

8. Die hoofde en die leiers het besluit dat almal moet kom, en dat hulle elkeen wat ná drie dae nog nie gekom het nie, sal wegjaag van die mense wat teruggekom het. Hulle sal ook sy goed vat.

9. Al die mans van Juda en Jerusalem het bymekaargekom voordat drie dae verby was. Dit was op die twintigste dag van die negende maand. Almal het op die oop stuk grond by die tempel gaan sit. Dit het gereën, en hulle het gebewe van die koue, maar ook omdat hulle bang was.

Lees volledige hoofstuk Esra 10