Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 47:12-23 Bybel vir Almal (ABA)

12. Op die walle langs altwee kante van die rivier sal al die verskillende soorte vrugtebome groei. Hulle blare sal nie droog word en verlep nie en daar sal altyd vrugte aan die bome wees. Die bome sal elke maand nuwe vrugte dra, want hulle staan by water wat van die tempel kom. Die mense sal die vrugte eet en hulle sal die blare gebruik, dit sal medisyne wees vir hulle.”

13. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Hier is die grense van die land wat julle tussen die twaalf stamme van Israel moet verdeel. Die Josef-stam moet twee dele kry.

14. Elke ander stam moet een deel kry. Ek het belowe dat Ek die land vir julle voorvaders sal gee. Daarom moet julle die grond in hierdie land kry.

15. Hier is die grense van die land: By die noordekant begin die grens by die Middellandse See en dan gaan dit verby die stad Getlon tot by die stad Sedad,

16. en dan verder na die stede Hamat, Berota en Sibrajim, wat op die grens tussen die land Damaskus en die land Hamat is, en dan na die stad Middel-Gaser op die grens van die land Gauran.

17. Hierdie grens is van die Middellandse See tot by die stad Gasar-Enan op die grens van die land Damaskus, en by die noordekant is die grens van die land Hamat. Dit is die noordgrens.

18. By die oostekant begin die grens tussen die land Gauran en die land Damaskus, en dit gaan langs die Jordaan-rivier tussen die land Gilead en die land Israel. Julle moet die grens meet van die kant van die Dooie See. Dit is die oosgrens.

19. By die suidekant begin die grens suid van die stad Tamar en dit gaan tot by die stad Waters-van-Meribot-Kades, en dan langs die rivier na die Middellandse See. Dit is die suidgrens.

20. By die westekant is die Middellandse See die grens, van die suidgrens tot oorkant die stad Lebo-Hamat. Dit is die wesgrens.”

21. “Julle moet hierdie land verdeel vir die stamme van Israel.

22. En wanneer julle lootjies trek om te sien wie grond moet kry, dan moet dit wees vir julleself en vir die vreemdelinge wat lank tussen julle woon en wat in julle land kinders gekry het. Daardie vreemdelinge moet vir julle soos regte Israeliete wees. Hulle moet saam met julle grond kry tussen die stamme van Israel.

23. Julle moet vir ’n vreemdeling grond gee by die stam waar hy woon.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 47