Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 44:17-31 Bybel vir Almal (ABA)

17. Maar wanneer hierdie priesters deur die poorte van die binneste oop stuk grond kom, dan moet hulle linne-klere aanhê, hulle mag nie wolklere dra wanneer hulle deur die poorte van die binneste oop stuk grond gaan om by die tempel te werk nie.

18. Die priesters moet linne-kopdoeke en linne-broeke dra. Hulle moenie iets dra wat hulle laat sweet nie.

19. En wanneer hulle uitgaan na die buitenste oop stuk grond waar die volk is, dan moet hulle die klere uittrek wat hulle gedra het toe hulle gewerk het. Hulle moet die klere uittrek en hulle moet dit in die gewyde kamers neersit. Hulle moet ander klere aantrek, sodat die volk nie aan die gewyde klere kan raak nie.

20. Die priesters mag nie hulle koppe kaal skeer nie, en hulle mag ook nie lang hare hê nie, hulle moet hulle hare netjies sny.

21. ’n Priester mag nie wyn drink wanneer hy na die binneste oop stuk grond moet ingaan nie.

22. Die priesters mag nie trou met weduwees of vroue wat geskei het nie. Hulle moet trou met jongmeisies wat Israeliete is, of met die weduwees van priesters.

23. Die priesters moet vir my volk leer wat is gewyd en wat is nie gewyd nie, hulle moet ook vir die mense leer wat is onrein en wat is rein.

24. Wanneer mense mekaar beskuldig, dan moet die priesters die regters wees en hulle moet oordeel soos Ek dit wil hê. Hulle moet op al die feesdae doen wat Ek wil hê en soos Ek gesê het, en hulle moet sorg dat my Sabbatdae gewyde dae bly.

25. ’n Priester mag nie naby ’n lyk kom nie, want dan sal hy onrein word. Hy mag net naby die lyke kom van sy ouers of sy kinders of sy broers of sy susters wat nie getroud is nie. Hy sal dan onrein word.

26. Wanneer hy hom weer gereinig het, dan moet hy sewe dae wag,

27. en wanneer hy dan in die gewyde plek ingaan, na die binneste oop stuk grond om daar te werk, dan moet hy ’n sonde-offer bring.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

28. “Die priesters moenie hulle eie grond kry nie, hulle het vir My. Julle moenie vir hulle grond gee in die land Israel nie, hulle het vir My.

29. Hulle kos is die koring-offer en die sonde-offer en die skuld-offer en al die ander goed wat aan die Here gewy is in die land Israel. Dit behoort aan hulle.

30. Die eerste vrugte en koring, en al die presente wat julle na die tempel bring, moet aan die priesters behoort. Julle moet ook die eerste deeg wat julle aanmaak, vir die priesters gee. Dan sal die Here julle huise seën.

31. Die priesters mag nie die vleis eet van diere wat self gevrek het nie, ook nie die vleis van ’n dier wanneer ’n wilde dier daardie dier gevang het nie.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 44