Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 37:18-28 Bybel vir Almal (ABA)

18. En wanneer jou mense vir jou vra: ‘Vertel asseblief vir ons wat beteken die twee plankies,’

19. dan moet jy vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Kyk, Ek neem die plankie van Josef, dit is Efraim en al die Israel-stamme wat hulle bondgenote is, en Ek sit dan daardie plankie op die plankie van Juda en Ek maak een plankie van die twee plankies. Hulle sal soos een plankie in my hand wees.

20. Wanneer hulle sien die plankies waarop jy geskryf het, is in jou hand,

21. dan moet jy vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek sal nou die Israeliete wegneem tussen die volke waar hulle gekom het, Ek sal hulle bymekaarmaak van al die kante en Ek sal hulle na hulle eie land bring.

22. Ek sal hulle een volk maak in die land, op die Israel-berge, en hulle almal sal een koning hê. Hulle sal nie meer twee volke wees nie en hulle sal nooit weer twee lande wees nie.

23. Hulle sal ook nie weer afgode dien en dinge doen wat Ek haat nie. Hulle sal nie weer opstandig wees sodat hulle onrein word nie. Ek sal hulle red en Ek sal al hulle ongehoorsaamheid wegneem wat hulle sonde laat doen het, Ek sal hulle reinig. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees.

24. En my dienaar Dawid sal hulle koning wees. Hy sal die enigste herder vir hulle almal wees, hy sal lewe soos Ek sê en hy sal doen wat Ek wil hê.

25. Die Israeliete sal in die land woon wat Ek vir my dienaar Jakob gegee het, die land waar hulle voorvaders gewoon het. Hulle sal altyd daar woon, hulle en hulle kinders en hulle kinders se kinders. My dienaar Dawid sal altyd oor hulle regeer.

26. Ek sal ’n verbond maak met hulle, ’n verbond wat vir hulle vrede sal bring. Die verbond sal vir altyd wees. Ek sal vir hulle gee wat hulle nodig het en Ek sal hulle baie laat word. Ek sal my tempel altyd by hulle laat staan.

27. My woonplek sal by hulle wees. Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees.

28. En wanneer my tempel altyd by hulle is, dan sal die ander volke weet dat dit Ek, die Here, is wat Israel aan My wy.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 37