Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 37:10-19 Bybel vir Almal (ABA)

10. Ek het die boodskap gebring soos die Here vir my gesê het, en toe kom daar asem in die bene. Hulle het begin lewe en hulle het regop gestaan. Dit was baie baie mense.

11. Die Here het vir my gesê: “Mens, hierdie bene is die hele volk Israel. Hulle sê: ‘Ons is soos droë bene, ons kan niks meer hoop nie. Daar kan nie meer iets gebeur wat goed is vir ons nie.’

12. Daarom, jy moet my boodskap vir hulle bring, jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: My volk, Ek sal nou julle grafte oopmaak en Ek sal julle laat uitkom uit julle grafte. Ek sal julle laat teruggaan na die land Israel.

13. My volk, julle sal weet dat ek die Here is wanneer Ek julle grafte oopmaak en wanneer Ek julle uit julle grafte bring.

14. Ek sal my asem in julle gee, en julle sal lewe. Ek sal julle laat woon op julle eie grond, en julle sal weet dat Ek die Here is. Ek het dit gesê en Ek sal dit doen.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

15. Ek het gehoor die Here sê vir my:

16. “En jy, mens, jy moet ’n plankie neem en jy moet daarop skryf ‘Vir Juda en vir die Israeliete wat hulle bondgenote is.’ Dan moet jy nog ’n plankie neem en jy moet daarop skryf ‘Vir Josef.’ Dit is die plankie van Efraim en al die mense van Israel wat hulle bondgenote is.

17. Dan moet jy die twee plankies teen mekaar druk, sodat hulle in jou hand voel soos een plankie.

18. En wanneer jou mense vir jou vra: ‘Vertel asseblief vir ons wat beteken die twee plankies,’

19. dan moet jy vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Kyk, Ek neem die plankie van Josef, dit is Efraim en al die Israel-stamme wat hulle bondgenote is, en Ek sit dan daardie plankie op die plankie van Juda en Ek maak een plankie van die twee plankies. Hulle sal soos een plankie in my hand wees.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 37