Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 3:1-15 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Here het vir my gesê: “Mens, jy moet eet wat Ek vir jou gee, jy moet hierdie boekrol eet en dan moet jy gaan praat met die volk Israel.”

2. Ek het my mond oopgemaak en ek het daardie boekrol geëet.

3. Hy het vir my gesê: “Mens, Ek gee hierdie boekrol vir jou. Jy moet dit eet totdat jou maag vol is.”En toe ek dit eet, het dit so soet soos heuning gesmaak.

4. Hy het vir my gesê: “Mens, jy moet loop en vir die volk Israel gaan sê wat Ek vir hulle sê.

5. Want die volk Israel praat ’n taal wat nie moeilik is om te verstaan nie. Ek stuur jou na hulle toe.

6. Ek stuur jou ook nie na baie ander volke toe wat tale praat wat moeilik is om te verstaan nie. As Ek jou na hulle toe gestuur het, dan het hulle geluister na jou.

7. Maar die volk Israel sal nie luister na jou nie, want hulle wil ook nie luister na Mý nie. Ja, die hele volk Israel is hardkoppig, hulle wil nie luister nie.

8. Maar jy moet dit weet, Ek het vir jou ook so hardkoppig gemaak soos hulle, Ek het jou kop ook so hard gemaak soos hulle koppe.

9. Ek het jou kop so hard gemaak soos ’n diamant, dit is harder as vuurklip. Jy moenie vir hulle bang wees en vir hulle skrik nie, want hulle is ’n opstandige volk.”

10. Daarna het die Here vir my gesê: “Mens, jy moet goed luister en jy moet onthou wat Ek vir jou sê.

11. Jy moet na die Judeërs toe gaan wat in Babel is, na jou mense toe, en jy moet met hulle praat en vir hulle sê wat Ek, die Here, sê. Jy moet dit doen, as hulle luister en ook as hulle nie luister nie.”

12. Die Gees het my opgetel, en toe hoor ek agter my ’n groot aardbewing en ’n persoon wat sê: “Almal moet die Koning prys wanneer Hy uit die hemel kom!”

13. Ek het ook gehoor hoe skuur die diere se vlerke teen mekaar en hoe rol die wiele langs hulle. Dit was soos ’n groot aardbewing.

14. Die Gees het my opgetel en Hy het my saamgeneem. Ek het gegaan, maar ek was kwaad en ontsteld. Ek het gevoel die Here sit sy hand hard op my.

15. Ek het by die Judeërs in Tel-Abib gekom, hulle het langs die Kebar-kanaal gewoon. Ek het sewe dae lank daar tussen hulle gesit. Ek was so hartseer en ontsteld dat ek niks kon sê nie.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 3