Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 28:8-24 Bybel vir Almal (ABA)

8. Hulle sal jou laat afgaan na die doderyk, jy sal in die middel van die see sterf soos iemand in ’n oorlog sterf.

9. Sal jy dan nog sê dat jy ’n god is, daar voor die mense wat jou doodmaak? Sal jy dit sê wanneer hulle met jou doen wat hulle wil? Nee. Jy is ’n mens, jy is nie ’n god nie.

10. Jy sal sterf, en niemand sal jou respekteer nie. Vreemde mense sal jou doodmaak, want Ek het gepraat.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

11. Ek het gehoor die Here sê vir my:

12. “Mens, jy moet ’n klaaglied begin sing oor die koning van die stad Tirus. Jy moet vir hom sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Jy was op ’n baie mooi seël, jy was vol wysheid en jy was so mooi soos die mooiste mens.

13. Jy was in Eden, die godetuin, en jou klere was van al die kosbare edelstene: karneool, topaas, jaspis, chrisoliet, oniks, opaal, saffier, turkoois en smarag. Ek het jou tamboeryne van goud gemaak en Ek het jou uit goud gesny. Dit is hoe Ek jou gemaak het.

14. Jy het gelyk soos ’n gerub, jou vlerke was oop en jy moes die tuin beskerm. Ek het jou op die heilige godeberg gesit. Jy het daar tussen die blink edelstene geloop.

15. Jy het heeltemal reg gelewe vandat Ek jou gemaak het. Maar toe het jy begin om verkeerd te doen.

16. Jy het meer en meer goed gekoop en verkoop, maar jy het ook meer en meer slegte dinge aan jou mense gedoen. Jy het sonde gedoen, en daarom het Ek jou weggevat van die godeberg. Jy was die gerub wat die tuin moes beskerm, maar Ek het jou weggevat tussen die blink edelstene.

17. Jy het hoogmoedig geword omdat jy mooi was, jy het jou wysheid verloor toe die lig om jou geskyn het. Ek het jou op die grond gegooi voor die konings en Ek het jou daar laat lê sodat hulle jou kon sien.

18. Jy het baie verkeerde dinge gedoen, jy was baie onregverdig toe jy goed gekoop en verkoop het. So het jy jou tempels ontwy. Daarom het Ek vuur in jou laat kom, en dit het jou gebrand, jy het as geword op die grond. Almal kon dit sien.

19. Al die volke wat jou geken het, het geskrik toe hulle sien wat gebeur het met jou. Jy het baie wreed gesterf, jy sal nooit weer lewe nie.”

20. Ek het gehoor die Here sê vir my:

21. “Mens, jy moet jou gesig na die stad Sidon draai, en jy moet my boodskap teen die stad bring.

22. Jy moet sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Sidon, Ek is nou jou vyand. Ek sal vir die mense in jou wys dat Ek die Koning is. Ek sal hulle straf en Ek sal vir hulle wys dat Ek die heilige God is, dan sal hulle weet dat Ek die Here is.

23. Ek stuur pes in die stad. Die bloed sal vloei in die strate. Vyande sal die stad aanval van al die kante, en die dooie mense sal op die strate lê. Die mense van die stad sal weet dat Ek die Here is.

24. Die volke rondom die volk Israel het gewys dat hulle dink Israel is nie belangrik nie, hulle was soos dorings wat aangehou het om vir Israel te steek. Wanneer Ek daardie volke straf, dan sal dit nie weer gebeur nie.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 28