Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 23:29-30-44 Bybel vir Almal (ABA)

29-30. Hulle sal jou ook haat en hulle sal alles vat wat jy het. Dan sal hulle jou los, kaal en sonder klere. Hulle sal vir almal wys hoe ontrou jy was en watter slegte dinge jy gedoen het. Dit sal met jou gebeur omdat jy ontrou was. Jy was ontrou, jy het die ander volke gevolg en jy het jouself onrein laat word omdat jy hulle afgode aanbid het.

31. Jy het gelewe soos jou suster, daarom gee Ek nou vir jou die beker van swaarkry wat jou suster moes drink.”

32. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Jy sal die beker drink wat jou suster moes drink. Dit is ’n groot beker. Die ander volke sal vir jou lag en hulle sal jou spot, want in die beker is daar baie wat jy moet drink.

33. Jy sal dronk word en jy sal baie swaar kry. Jy sal baie bang word en jy sal heeltemal alleen wees wanneer jy die beker drink wat jou suster Samaria moes drink.

34. Jy sal alles in die beker drink en jy sal dit leegmaak, en dan sal jy die beker stukkend kou, jy sal jou borste afskeur, want Ek het gepraat.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

35. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Jy het My vergeet en jy het jou rug gedraai na My toe. Daarom sal Ek jou straf oor die slegte dinge wat jy gedoen het toe jy ontrou was.”

36. Die Here het vir my gesê: “Mens, jy moet vir Ohola en Oholiba oordeel. Jy moet vir hulle sê hulle het dinge gedoen wat Ek haat.

37. Want hulle het egbreuk gepleeg en hulle het mense vermoor. Hulle was ontrou, hulle het afgode gedien. Hulle het kinders gekry, dit was mý kinders, maar hulle het daardie kinders ook verbrand sodat die afgode hulle kon eet.

38. En hulle het ook nog dít gedoen: Hulle het op een dag my tempel onrein gemaak en my Sabbatdae ontwy.

39. Hulle het op een dag hulle kinders geslag vir hulle afgode en hulle het my tempel kom ontwy. Ja, dit is wat hulle gedoen het binne-in my tempel.

40. Hulle het ook boodskappers gestuur om manne te nooi, die manne moes van ver kom. Toe die boodskapper by hulle kom, het hulle dadelik gekom. Jy, Oholiba, het gebad en jy het verf aan jou oë gesmeer en jy het jou juwele aangesit.

41. Jy het gaan sit op ’n baie mooi bed, en jy het ’n tafel voor die bed gesit. Op die tafel het jy my wierook en my olyf-olie gesit.

42. Daar was ’n klomp mense in die stad, en hulle was oor niks bekommerd nie. Saam met hulle almal was daar ook die manne wat uit die woestyn gekom het. Hulle was dronk en hulle het armbande aan Oholiba se arms gesit en ’n mooi kransie op haar kop.

43. Ek het gedink: Sy is moeg van egbreuk pleeg, wil sy nou aanhou om ontrou te wees?

44. Maar hulle het na haar toe gekom soos manne wat na ’n prostituut toe kom. Dit is hoe hulle gekom het na Ohola en Oholiba toe, die slegte vroue.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 23