Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 20:28-38 Bybel vir Almal (ABA)

28. Ek het hulle gebring na die land wat Ek vir hulle belowe het. Maar toe hulle al die hoë heuwels en die groen bome sien, het hulle daar ge-offer en presente neergesit om My te verneder. Hulle het wierook gebrand en drank-offers uitgegooi.

29. Ek het toe vir hulle gevra: ‘Wat beteken die offer-plekke waarnatoe julle gaan?’ Hulle noem daardie plekke nou nog offer-plekke.

30. “Daarom, jy moet vir die volk Israel sê: Die Here, Hy wat Here is, vra: Het julle soos julle voorvaders gelewe en julleself onrein gemaak? Dien julle hulle vuil afgode en is julle ontrou aan My?

31. Julle sit presente neer vir die afgode, julle verbrand julle kinders, julle maak julleself onrein met julle afgode, tot vandag toe. Volk Israel, moet Ek julle antwoord as julle vir My vra wat sal gebeur? Ek sal julle nie antwoord nie, dit is seker, so seker soos Ek lewe.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

32. “Julle dink julle wil wees soos die ander volke, soos die mense in ander lande wat offers bring vir hout en klip, maar dit sal nie gebeur nie.”

33. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal julle Koning wees, dit is seker, so seker soos Ek lewe. Ek sal kwaai oor julle regeer en Ek sal julle laat swaarkry en julle straf.

34. Ek was kwaai met julle en Ek het julle laat swaarkry. Ek het julle gestraf en Ek het julle na ander lande gejaag. Maar Ek sal julle bymekaarbring uit daardie lande, Ek sal julle uitbring tussen die volke.

35. Ek sal julle na die woestyn bring tussen die land Babel en die land Israel, en daar sal Ek self vir julle oordeel.

36. Ek het julle voorvaders ge-oordeel in die woestyn tussen Egipte en Israel, Ek sal julle ook so oordeel.

37. Ek sal julle almal tel en Ek sal julle gehoorsaam maak aan die verbond.

38. Ek sal almal wat opstandig is teen My en wat nie na My wil luister nie, apart sit. Ja, Ek sal hulle uithaal uit die lande waar hulle woon, maar hulle sal nie in die land Israel kom nie. Julle sal weet dat Ek die Here is.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 20