Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 1:12-23 Bybel vir Almal (ABA)

12. Elke dier het reguit vorentoe beweeg. Hulle het gegaan waar die Gees wou hê hulle moet gaan. Hulle het nie weggedraai wanneer hulle beweeg het nie.

13. Die vier diere het gelyk soos kole vuur, en hulle het ook gelyk soos die fakkels wat heen en weer tussen hulle gaan. Die vuur het helder geskyn, en daar het weerlig uit die vuur gekom.

14. Die diere het vinnig heen en weer gegaan soos weerlig.

15. En terwyl ek so na hulle kyk, sien ek ’n wiel op die grond langs elkeen van die vier diere.

16. Dit het gelyk of die wiele van chrisoliet gemaak was. Die wiele was almal dieselfde, en in elke wiel was daar nog ’n wiel, daardie wiel was dwars.

17. Die wiele kon na enige kant toe beweeg, maar wanneer hulle beweeg het, dan kon hulle nie wegdraai nie.

18. Die buitenste rande van die wiele was groot. Ek het geskrik vir hulle, want daar was oral oë rondom die rande van die vier wiele.

19. Wanneer die diere beweeg, dan het die wiele langs hulle ook beweeg, en wanneer die diere in die lug opgaan, dan het die wiele ook opgegaan.

20. Hulle het gegaan waar die Gees wou hê hulle moet wees, en die wiele het saam in die lug opgegaan, want die gees van die diere was in die wiele.

21. Wanneer die diere beweeg, dan het die wiele ook beweeg. Wanneer die diere stilstaan, dan het die wiele ook stilgestaan. Wanneer die diere in die lug opgaan, dan het die wiele ook opgegaan, want die gees van die diere was in die wiele.

22. Bokant die diere was ’n hemeldak. Die hemeldak het gelyk soos ys. Ek het bang geword toe ek dit sien. Die hemeldak was bokant hulle koppe en dit was hard en styf.

23. Onder die hemeldak was die diere. Die boonste vlerke van elke dier was oop, en elke vlerk het geraak aan die vlerk van die dier langs hom. Met die ander twee vlerke het elke dier sy lyf toegemaak.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 1