Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 8:19-26 Bybel vir Almal (ABA)

19. Die towenaars sê toe vir die farao: “Dit is God wat die muggies gestuur het!”Maar die farao was hardkoppig, hy het nie na hulle geluister nie. Dit het gebeur soos die Here gesê het.

20. Die Here het vir Moses gesê: “Gaan môre-oggend vroeg en wag vir die farao wanneer hy na die rivier kom. Sê vir hom die Here sê hy moet die Israeliete laat gaan sodat hulle Hom kan dien.

21. As hy nie die Israeliete laat gaan nie, dan sal Ek steekvlieë stuur. Die steekvlieë sal op die farao, op sy amptenare, op sy mense en in hulle huise wees. Die huise van die Egiptenaars sal vol steekvlieë wees, ook die hele land.

22. Maar dieselfde sal nie gebeur in die land Gosen waar my volk woon nie. Daar sal nie steekvlieë wees nie. Dan sal die farao weet dat Ek die Here is in hierdie land.

23. Ek sal my volk beskerm, maar Ek sal nie die Egiptenaars beskerm nie. Dit sal môre gebeur en dit sal bewys dat Ek die Here is.”

24. Die Here het dit toe gedoen. Daar het baie groot swerms steekvlieë gekom na die farao se huis, na sy amptenare se huise en na die hele Egipte. Al die mense in die land het baie swaar gekry omdat daar so baie steekvlieë was.

25. Die farao het vir Moses en Aäron geroep en gesê: “Julle mag vir julle God offers gaan bring, maar julle moet dit in hierdie land doen.”

26. Moses het gesê: “Nee, dit sal nie reg wees om in hierdie land offers te bring nie, want die Egiptenaars haat dit wanneer ons vir die Here offers bring. Wanneer hulle sien ons bring offers, dan sal hulle ons met klippe doodgooi.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 8