Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 29:1-14 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet Aäron en sy seuns aan My wy sodat hulle my priesters kan wees. Julle moet ’n bul en twee skaap-ramme neem wat gesond is. Daar moet niks verkeerd wees met hulle nie.

2. Neem die beste koringmeel en maak ongesuurde brood, rondebrood en roosterkoeke. Julle moet olyf-olie meng met die deeg van die rondebrood en julle moet olyf-olie aan die roosterkoeke smeer.

3. Sit dit alles in een mandjie en offer dit saam met die bul en die twee ramme.

4. Bring vir Aäron en sy seuns na die ingang van die tent waar Ek aan julle verskyn en was hulle dan met water.

5. Neem die priester-klere en trek dit vir Aäron aan: die rok, die skouer-kleed, die oorkleed wat hy saam met die skouer-kleed moet dra, en die borssak. Maak die skouer-kleed vas met die belt.

6. Sit die tulband om sy kop en sit die gewyde kroon op die tulband.

7. Gooi dan olyf-olie op sy kop uit en salf hom.

8. Julle moet sy seuns ook so wy en julle moet vir hulle ook priester-klere aantrek.

9. Julle moet die skouer-serpe en die kopdoeke vir Aäron en sy seuns opsit. Hulle moet altyd priesters wees. Dit moet julle doen om Aäron en sy seuns te wy sodat hulle my priesters kan wees.

10. Dan moet julle die bul bring tot voor die tent waar Ek aan julle verskyn. Aäron en sy seuns moet hulle hande op die bul se kop sit,

11. en julle moet die bul slag hier by My, by die ingang van die tent waar Ek aan julle verskyn.

12. Neem ’n bietjie van die bul se bloed en smeer dit met jou vingers aan die horings van die altaar. Gooi dan al die bloed uit teen die voet van die altaar.

13. Julle moet al die vet wat aan die bul se binnegoed is, op die altaar verbrand, en ook die onderste punt van die lewer, en die niere en die vet wat daaraan is.

14. Julle moet die bul se vleis verbrand buite die kamp. Verbrand dit saam met die vel en die gras wat in die pens is. Dit is ’n sonde-offer.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 29