Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 28:31-40 Bybel vir Almal (ABA)

31. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet ’n oorkleed maak wat die priester saam met die skouer-kleed moet dra. Julle moet dit van een stuk blou wol-materiaal maak.

32. In die middel van die oorkleed moet ’n gat wees waar die priester se kop kan deurgaan. Daar moet ’n sterk rand rondom die gat wees sodat dit nie kan skeur nie.

33. Julle moet granate maak van blou, pers en bloedrooi wol-materiaal en julle moet dit vaswerk op die soom van die oorkleed. Langs elke granaat moet ’n goue klokkie wees.

34. Werk ’n goue klokkie vas langs elke granaat op die soom van die oorkleed.

35. Aäron moet die oorkleed dra wanneer hy in die tempel werk. Almal sal dan die klokkies hoor lui wanneer hy in die tempel ingaan om na My toe te kom en wanneer hy weer uitgaan. As julle dit doen, dan sal Aäron nie sterf nie.”

36. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet ’n blom van skoon goud maak en julle moet daarop skryf soos ’n mens op ’n ring skryf: ‘Gewy aan die Here.’

37. Julle moet die blom met ’n blou woldraad vasmaak voor aan die tulband.

38. Die blom moet op Aäron se voorkop wees. Die blom sal wys dit is Aäron wat moet seker maak dat die priesters die Israeliete se gewyde presente reg gebruik. Die blom moet altyd op Aäron se voorkop wees, dan sal die Here die presente aanvaar.”

39. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet vir Aäron ’n rok en ’n tulband van linne-materiaal maak en julle moet ’n skouer-serp maak en daarop borduur.

40. Julle moet vir Aäron se seuns ook rokke en skouer-serpe en kopdoeke maak. Hierdie klere moet mooi wees en dit moet wys hulle is priesters.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 28