Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 23:3-13 Bybel vir Almal (ABA)

3. Jy mag ook nie goed wees vir ’n arm mens in die hof net omdat hy arm is nie.”

4. “Wanneer jy ’n bees of ’n donkie van jou vyand kry en die bees het weggeloop of verdwaal, dan moet jy dit vir hom terugbring.

5. Wanneer jou vyand se donkie val omdat hy te swaar moet dra, en jy sien dit, dan moet jy die donkie help. Jy mag hom nie daar los nie.”

6. “Jy moet in die hof reg doen aan ’n arm mens.

7. Jy moenie luister na leuens nie, want dan sal jy miskien ’n onskuldige mens laat doodmaak. Ek, die Here, sal nooit sê ’n skuldige mens is reg nie.

8. Mense gee partymaal vir jou ’n present en dan wil hulle hê jy moet sê hulle is reg. Jy mag nie die present neem nie, want dit laat jou verkeerd sien en verkeerd dink. Dan doen jy nie reg aan mense wat onskuldig is nie.

9. Jy mag nie slegte dinge doen aan ’n vreemdeling nie. Julle weet self hoe hy voel, want julle was ook vreemdelinge in Egipte.”

10. “Julle moet ses jaar lank op julle grond saai en die koring of die gars bymekaarmaak.

11. In die sewende jaar moet julle die grond los, julle moenie dan in die grond werk en die koring of die gars afsny nie, sodat die arm mense iets kan kry om te eet. En as die arm mense iets laat oorbly, dan kan die wilde diere dit eet. Julle moet dieselfde doen met julle wingerde en julle olyfbome.

12. Julle moet ses dae lank julle werk doen, maar op die sewende dag moet julle nie werk nie. Dan kan julle beeste en julle donkies rus, en ook julle slawe en die vreemdelinge.”

13. “Julle moet gehoorsaam wees en alles doen wat Ek vir julle gesê het, julle moet dit presies so doen. Julle mag nie tot ander gode bid nie. Julle mag nooit van ander gode praat nie.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 23