Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 22:9-16 Bybel vir Almal (ABA)

9. “Mense stry partymaal oor ’n bees of ’n donkie of ’n skaap, of oor klere of oor enige iets wat weggeraak het, en iemand sê: ‘Dit is myne.’ Dan moet hulle vir God gaan vra wie is reg. God sal sê wie is skuldig, en dan moet die man wat skuldig is, vir die ander man twee maal soveel gee.

10. Partymaal gee iemand vir ’n ander man ’n donkie of ’n bees of ’n skaap of ’n ander dier om op te pas. As die dier vrek, of ’n ander dier byt dit dood of iemand steel dit wanneer niemand die diere oppas nie,

11. dan moet die man wat die dier moes oppas, sê hy het nie self die dier doodgemaak of gesteel nie. God moet die getuie wees. Dan moet die eienaar hom glo, en die ander man moenie hom betaal nie.

12. Maar as iemand die dier gesteel het en dit is seker, dan moet die man wat die dier moes oppas, die eienaar betaal vir die dier.

13. As ’n wilde dier dit doodgebyt het, en die man kan wys wat oorgebly het van die dooie dier, dan moet hy nie die eienaar betaal nie.”

14. “Wanneer iemand ’n ander man se dier leen en ’n wilde dier byt dit dood of dit vrek, en die eienaar is nie daar wanneer dit gebeur nie, dan moet die man wat dit geleen het, ’n ander dier gee in die plek van die dier wat dood is.

15. As die eienaar daar is wanneer dit gebeur, dan moet die man niks betaal nie. As hy die dier gehuur het, dan sal sy huurgeld genoeg wees om dit te betaal.”

16. “Wanneer ’n man ’n meisie verlei wat nie verloof is nie en hy slaap by haar, dan moet hy vir haar pa die bruidsprys gee en hy moet met die meisie trou.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 22