Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 22:1-9 Bybel vir Almal (ABA)

1. “As ’n man ’n bees of ’n skaap steel en hy slag of verkoop die dier, dan moet hy vir die eienaar van die beeste vyf beeste gee. As hy ’n skaap gesteel het, dan moet hy vir die eienaar van die skaap vier skape gee.

2-4. As julle die dief vang en die dier wat hy gesteel het, lewe nog, dan moet die dief vir die eienaar van die diere twee diere gee vir elke dier wat hy gesteel het. Dit maak nie saak of dit ’n bees of ’n donkie of ’n skaap is nie. Die dief moet vir alles betaal. As hy niks het nie, dan moet julle die dief verkoop om te betaal vir die diere wat hy gesteel het. As iemand ’n dief vang terwyl hy in die nag inbreek, en hy slaan die dief dood, dan moet julle nie die man doodmaak wat hom geslaan het nie. Maar as dit in die dag gebeur, dan moet julle die man wat die dief doodgeslaan het, ook doodmaak.”

5. “Wanneer ’n man sy diere in sy veld of wingerd laat loop om te wei, dan moet hy hulle oppas. As hy sy diere vry laat loop en hulle gaan vreet ook in ’n ander man se veld, dan moet die eienaar van die diere die ander man betaal. Hy moet die beste koring en die beste druiwe vir die ander man gee.”

6. “Wanneer ’n man ’n vuur maak en die vuur verbrand ook ’n ander man se koring wat hy klaar afgesny en opmekaar gepak het, of dit verbrand sy koring wat nog groei of sy gras, dan moet die man wat die brand begin het, alles terugbetaal.”

7. “Wanneer iemand vir ’n ander man geld of goed gee om op te pas, en iemand anders steel dit uit die man se huis, en hulle vang die dief, dan moet die dief vir die eienaar twee maal soveel gee.

8. As hulle nie die dief kan vang nie, dan moet die eienaar van die huis sê dat hy nie die ander man se goed gesteel het nie. God moet die getuie wees.

9. “Mense stry partymaal oor ’n bees of ’n donkie of ’n skaap, of oor klere of oor enige iets wat weggeraak het, en iemand sê: ‘Dit is myne.’ Dan moet hulle vir God gaan vra wie is reg. God sal sê wie is skuldig, en dan moet die man wat skuldig is, vir die ander man twee maal soveel gee.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 22