Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 17:1-8 Bybel vir Almal (ABA)

1. Nadat al die Israeliete weggegaan het uit die Sin-woestyn, het hulle van een plek na ’n ander plek gegaan soos die Here vir hulle gesê het. Hulle het later by Refidim hulle tente opgeslaan. Daar was nie water vir die mense om te drink nie.

2. Die Israeliete was toe kwaad en hulle het by Moses gekla. Hulle het gesê: “Gee vir ons water sodat ons kan drink.”Moses het vir hulle gesê: “Hoekom beskuldig julle my? Hoekom dink julle die Here kan ons nie help nie?”

3. Maar die mense was dors. Hulle het vir Moses beskuldig en hulle het vir hom gesê: “Hoekom het jy ons uit Egipte gebring om ons en ons kinders en ons diere te laat sterf omdat ons nie water het nie?”

4. Moses het tot die Here gebid en hy het vir die Here gevra om hom te help. Hy het gesê: “Wat moet ek met hierdie mense doen? Hulle sal my doodgooi met klippe!”

5. Die Here het vir Moses gesê: “Loop voor die mense en neem ’n paar leiers van die Israeliete saam met jou. Neem jou kierie waarmee jy op die Nyl-rivier geslaan het.

6. Ek sal daar voor jou staan op die rots by Sinai. Jy moet teen die rots slaan, en dan sal daar water uitkom sodat die mense kan drink.”Moses het dit toe gedoen terwyl die leiers van die Israeliete gekyk het.

7. Hy het die plek “Massa en Meriba” genoem omdat die Israeliete vir Moses beskuldig het en omdat hulle die Here kwaad gemaak het. Hulle het gevra: “Is die Here by ons of is Hy nie by ons nie?”

8. Die Amalekiete het na Refidim gekom om oorlog te maak teen die Israeliete.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 17