Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 14:17-31 Bybel vir Almal (ABA)

17. Ek sal die Egiptenaars hardkoppig maak. Hulle sal julle deur die see volg. Dan sal Ek wys dat Ek die God is wat kan doen wat Ek wil doen met die farao en al sy soldate en met sy oorlogkarre en die manne daarop.

18. Wanneer Ek dit doen, dan sal die Egiptenaars weet dat Ek die Here is.”

19. Die Engel van die Here was altyd voor die Israeliete, maar Hy het nou agter hulle gaan staan.

20. Die wolk was toe tussen die Egiptenaars en die Israeliete. Die wolk was donker by die Egiptenaars maar by die Israeliete het die wolk in die nag lig gegee. Die Egiptenaars en die Israeliete kon daardie nag nie naby mekaar kom nie.

21. Moses het sy hand oor die see gehou, en die Here het ’n sterk oostewind gestuur. Die wind het die hele nag gewaai en die water weggestoot. Daar was ’n pad deur die see.

22. Die Israeliete het op die grond deur die see gegaan. Die water was vir hulle soos ’n muur langs hulle regter-kant en langs hulle linker-kant.

23. Die Egiptenaars het die Israeliete gevolg tot binne-in die see. Al die farao se perde en sy oorlogkarre en die manne daarop het in die see ingegaan.

24. Vroeg die volgende oggend het die Here uit die vuur en die wolk afgekyk na die Egiptenaars se soldate. Hy het die soldate baie bang laat word.

25. Hy het die oorlogkarre se wiele laat uitval sodat die karre nie vorentoe kon beweeg nie. Toe sê die Egiptenaars: “Ons moet wegvlug van die Israeliete, want die Here veg vir hulle teen ons.”

26. Die Here sê toe vir Moses: “Hou jou hand weer oor die see. Dan sal die water terugkom oor die Egiptenaars, oor hulle oorlogkarre en oor die manne daarop.”

27. Moses het sy hand na die see toe gehou, en toe dit die volgende oggend begin lig word, het die see teruggespoel soos dit voorheen was. Die Egiptenaars wou weghardloop, maar die water het oor hulle gespoel. So het die Here die Egiptenaars in die see laat verdrink.

28. Die water het teruggekom, en die see het die oorlogkarre toegemaak, dit het ook die manne daarop en al die soldate van die farao toegemaak, almal wat die Israeliete gevolg het in die see in. Nie een van hulle het oorgebly nie.

29. Die Israeliete het op die grond deur die see gegaan. Die water was vir hulle soos ’n muur langs hulle regter-kant en langs hulle linker-kant.

30. Die Here het die Israeliete daardie dag gered van die Egiptenaars. Die Israeliete het gesien dat die Egiptenaars dood lê langs die see.

31. Die Israeliete het gesien dat die Here kan doen wat Hy wil doen. Hy het die Egiptenaars doodgemaak. Die Israeliete het bang geword vir die Here en hulle het Hom gerespekteer. Hulle het geglo in die Here en in sy dienaar Moses.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 14