Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 8:1-14 Bybel vir Almal (ABA)

1. Moses het gesê: “Julle moet gehoorsaam wees aan al die wette wat ek vandag vir julle gee. As julle dit doen, dan sal julle lewe en julle sal baie word. Julle sal die land vir julleself gaan vat, die land wat die Here vir julle voorvaders belowe het.

2. En julle moet alles onthou wat julle God die Here met julle laat gebeur het toe julle 40 jaar in die woestyn was. Hy wou julle verneder, want Hy wou weet hoe julle voel. Hy wou weet of julle sal doen wat sy wette sê.

3. Hy het julle verneder en honger laat word en toe het Hy vir julle die manna gegee om te eet. Julle en julle voorvaders het voorheen nie manna geken nie. Die Here wou hê dat julle moet verstaan dat ’n mens nie net van brood kan lewe nie, ’n mens lewe van elke woord wat uit die mond van die Here kom.

4. In hierdie 40 jaar het julle klere nie stukkend geword nie en julle voete het nie geswel nie.

5. Julle moet weet dat die Here vir julle wil leer om reg te lewe, dit is dieselfde soos wanneer ’n pa vir sy kind wil leer om reg te lewe.

6. Julle moet doen wat die wette van die Here sê, julle moet lewe soos Hy wil hê en julle moet Hom dien.

7. Want julle God die Here bring julle na ’n goeie land. Dit is ’n land waar daar baie water is, daar is riviere en fonteine en diep water wat uit die berge én uit die valleie kom.

8. Daar is koring en gars, wingerde en vyebome en granaatbome. Dit is ’n land waar daar olyfbome en heuning is.

9. Dit is ’n land waar julle nie min kos sal hê nie, daar sal genoeg wees van alles. Dit is ’n land waar daar yster in die klippe is en waar julle koper uit die berge sal kan uitgrawe.

10. En wanneer julle eet en genoeg het, dan moet julle vir julle God die Here prys en vir Hom dankie sê vir die goeie land wat Hy vir julle gegee het.

11. Julle moet versigtig wees, julle moenie julle God die Here vergeet nie, julle moet doen wat sy wette sê, die wette wat ek vandag vir julle gee.

12. Wanneer julle eet en genoeg kry en mooi huise bou en daarin woon,

13. en julle het baie beeste en skape en bokke, en julle silwer en goud word baie, alles wat julle het, word baie,

14. dan moet julle nie hoogmoedig word en julle God die Here vergeet nie. Hy het julle uit die land Egipte gebring, die land waar julle slawe was.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 8