Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 7:9-23 Bybel vir Almal (ABA)

9. Daarom moet julle onthou dat julle God die Here die enigste God is. Hy is die God wat doen wat Hy belowe, die God wat sal doen wat Hy in sy verbond belowe het. Hy sal dit doen vir die mense wat lief is vir Hom en wat doen wat sy gebooie sê, Hy sal dit 1 000 geslagte lank doen.

10. Maar Hy sal al die mense straf en laat sterf wat nie lief is vir Hom nie, Hy sal nie vergeet nie, Hy sal hulle straf.

11. Daarom moet julle doen wat die wette sê, die wette wat ek vandag vir julle gee.

12. As julle gehoorsaam is aan hierdie wette en doen wat die wette sê, dan sal julle God die Here doen wat Hy in sy verbond belowe het vir julle voorvaders.

13. Hy sal lief wees vir julle en Hy sal julle seën. Hy sal julle baie laat word, julle sal baie kinders kry. Hy sal vir julle groot koring-oeste, baie wyn en olyf-olie gee, en ook baie kalwers en baie lammers. Hy sal dit alles vir julle doen in die land wat Hy vir julle voorvaders belowe het om vir julle te gee.

14. Die Here sal vir julle meer seën as vir ander volke, elke man en vrou sal kinders kan kry, elke koei sal kalwers kan kry en elke skaap-ooi en bok-ooi sal lammers kan kry.

15. Die Here sal keer sodat julle nie siek word nie, julle sal nie een van die slegte siektes van Egipte kry nie. Die Here sal daardie siektes nie by julle bring nie, Hy sal dit bring by die mense wat vir julle haat.

16. Julle sal al die volke oorwin en doodmaak wat julle God die Here vir julle gee, julle sal nie jammer wees vir hulle nie. Julle moenie hulle gode dien nie, want dan sal julle in ’n vangstrik val.

17. Julle sal miskien dink dat daardie volke meer is as julle en julle sal nie weet hoe julle hulle sal kan wegjaag en hulle land vir julleself kan vat nie,

18. maar dan moet julle nie bang wees vir hulle nie. Julle moenie vergeet nie, julle moet onthou wat julle God die Here gedoen het aan die farao en aan al die Egiptenaars.

19. Julle het self gesien hoe julle God die Here daardie mense laat swaarkry het. Julle het die tekens en die wonderwerke en sy groot krag gesien, Hy het dit gebruik om julle uit Egipte te bring. Julle God die Here sal dieselfde doen met al die volke vir wie julle bang is.

20. Ja, julle God die Here sal perdebye stuur teen daardie mense, nie een van hulle sal kan wegkruip en aanhou lewe nie.

21. Julle moenie bang wees vir daardie mense nie, want julle God die Here is by julle, en Hy is ’n groot God, almal is bang vir Hom.

22. Julle God die Here sal daardie mense wegjaag voor julle, maar julle sal hulle nie almal op dieselfde tyd doodmaak nie, want dan sal die wilde diere in die land te veel word vir julle.

23. Maar julle God die Here sal julle laat wen teen daardie mense, en hulle sal baie bang word. Hulle sal nie weet wat om te doen nie, totdat julle hulle almal doodgemaak het.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 7