Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 31:19-30 Bybel vir Almal (ABA)

19. Daarom moet jy hierdie lied neerskryf en jy moet dit vir die Israeliete leer. Hulle moet die lied ken, sodat die lied vir My ’n getuie sal wees teen hulle.

20. Want Ek het hulle gebring na die land wat Ek vir hulle voorvaders belowe het, ’n land waar daar baie melk en heuning is. Hulle sal genoeg eet en vet word en hulle sal ander gode begin dien. Hulle sal dink Ek is nie belangrik nie en hulle sal my verbond breek.

21. Wanneer dit dan baie sleg gaan met hulle, dan sal hierdie lied die getuie wees teen hulle, want hulle nageslag sal die lied onthou. Ja, Ek het die Israeliete nog nie gebring na die land wat Ek vir hulle belowe het nie, maar Ek weet wat hulle vandag dink.”

22. Moses het daardie dag die lied neergeskryf en hy het dit vir die Israeliete geleer.

23. Die Here het vir Josua seun van Nun gesê: “Jy moet sterk en dapper wees, want jý sal die Israeliete na die land bring wat Ek vir hulle belowe het, en Ek self sal by jou wees.”

24. Moses het die wette klaar in ’n boek geskryf

25. en toe het hy vir die Leviete wat die verbondskis van die Here dra, gesê:

26. “Neem hierdie wetboek en sit dit langs die verbondskis van julle God die Here. Dit moet daar bly om ’n getuie te wees teen julle,

27. want ek weet dat julle opstandig en hardkoppig is. Julle is nou opstandig teen die Here terwyl ek nog lewe, en nadat ek gesterf het, sal julle nog meer opstandig wees.

28. Roep al julle stamhoofde en julle voormanne, sodat ek hierdie dinge vir hulle kan sê en sodat ek die hemel en die aarde kan roep om getuies te wees teen hulle,

29. want ek weet dat julle ná my dood baie verkeerd sal doen en sal ophou om te lewe soos ek vir julle gesê het. Julle sal in daardie tyd baie swaar begin kry omdat julle dinge sal doen waarvan die Here nie hou nie. Julle sal Hom hartseer maak met die dinge wat julle sal doen.”

30. Moses het al die woorde van hierdie lied vir die volksvergadering van Israel gesê.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 31