Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 31:1-9 Bybel vir Almal (ABA)

1. Moses het met al die Israeliete gaan praat.

2. Hy het vir hulle gesê: “Ek is vandag 120 jaar oud. Ek kan nie meer goed loop nie. En die Here het vir my gesê ek sal nie oor hierdie Jordaan-rivier gaan nie.

3. Julle God die Here sal self voor julle oor die rivier gaan, Hy sal hierdie volke laat sterf om plek te maak vir julle, en julle sal hulle land vat. Josua sal voor julle oor die rivier gaan, soos die Here gesê het.

4. Die Here sal aan hierdie volke doen wat Hy gedoen het aan die Amoriete se konings Sihon en Og, en aan hulle land, Hy het hulle almal laat sterf.

5. Die Here sal julle laat wen teen hierdie volke, en julle moet alles met hulle doen wat ek vir julle gesê het.

6. Julle moet sterk en dapper wees, julle moenie bang wees nie, julle moenie skrik vir hulle nie, want julle God die Here gaan self saam met julle, Hy sal julle help en Hy sal julle nie alleen los nie.”

7. Moses het vir Josua geroep en hy het voor al die Israeliete vir Josua gesê: “Jy moet sterk en dapper wees, want dit is jý wat saam met hierdie volk moet gaan na die land wat die Here belowe het om vir hulle voorvaders te gee, jý moet vir hulle die land gee, dit sal hulle land wees.

8. Dit is die Here self wat voor jou gaan, Hy self sal by jou wees, Hy sal jou help en Hy sal jou nie alleen los nie. Jy moenie bang wees nie, jy moenie skrik nie.”

9. Moses het hierdie wette neergeskryf en hy het dit vir die priesters van die nageslag van Levi gegee, die priesters wat die verbondskis van die Here dra. Hy het die wette ook vir die leiers van die Israeliete gegee.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 31