Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 3:16-29 Bybel vir Almal (ABA)

16. en vir die Ruben-stam en die Gad-stam het ek die stuk land gegee van Gilead tot langs die middel van die Arnon-vallei, en ook die stuk land tot langs die Jabbok-vallei. Dit is die grens van die Ammoniete se land.

17. Ek het ook die Jordaan-vallei vir hulle gegee, die Jordaan-rivier en die grond langs die rivier. Dit was van die Gennesaret-meer tot by die see in die Jordaan-vallei, die Sout-see. Dit was onderkant die Pisga-berg langs die oostekant.

18. Ek het daardie tyd vir die mense van die Ruben-stam, die Gad-stam en die halwe Manasse-stam gesê: ‘Julle God die Here het hierdie land vir julle gegee om daar te gaan woon, maar al julle manne wat oorlog kan maak, moet deur die Jordaan-rivier gaan voor die ander Israeliete.

19. Net julle vroue en kinders en diere mag hier in die stede bly wat ek vir julle gegee het, ek weet dat julle baie diere het.

20. Julle manne moet saam gaan veg totdat die Here ook die ander Israeliete laat wen het teen al hulle vyande. Dan kan hulle die land vat wat julle God die Here vir hulle gee, dit is die land wes van die Jordaan-rivier. Daarna kan julle terugkom na die grond wat ek vir julle gegee het, elkeen kan na sy eie grond kom.’

21. “En ek het toe vir Josua gesê: ‘Jy het nou self alles gesien wat die Here gedoen het met daardie twee konings. Jy gaan nou deur die Jordaan-rivier na ander konings toe. Die Here sal dieselfde doen met daardie konings.

22. Julle moenie bang wees vir hulle nie, want julle God die Here self sal oorlog maak vir julle, Hy sal julle help.’ ”

23. “Ek het daardie tyd vir die Here gesoebat en gevra:

24. ‘Here, my Here, U het begin om my te laat sien hoe groot en sterk U is. Daar is nie ’n ander God in die hemel of op die aarde wat die groot dinge kan doen wat U doen nie.

25. U moet my asseblief ook deur die Jordaan-rivier laat gaan sodat ek die goeie land anderkant die Jordaan-rivier kan sien, hierdie mooi bergland en die Libanon-berg.’

26. “Maar omdat die Here kwaad geword het vir julle, was Hy ook kwaad vir my. Hy het nie vir my gegee wat ek gevra het nie. Hy het vir my gesê: ‘Dit is nou genoeg, jy moenie weer met My hieroor praat nie.

27. Jy mag op Pisga-berg gaan staan en jy mag kyk na die weste en die noorde en die suide en die ooste, maar jy sal nie deur hierdie Jordaan-rivier gaan nie.

28. Jy moet vir Josua sê wat hy moet doen en jy moet hom dapper maak, want dit is hý wat voor die volk deur die Jordaan-rivier sal gaan, hý sal hierdie land vir julle gee om in te woon, hierdie land wat jy sien.’

29. “Ons het toe daar in die vallei oorkant die stad Bet-Peor gebly.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 3