Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 29:21-29 Bybel vir Almal (ABA)

21. Die Here sal hom apart hou, weg van al die stamme van Israel, en dit sal sleg gaan met hom, so sleg soos die Here gesê het toe Hy die verbond gemaak het, die verbond wat in hierdie wetboek geskryf is.

22. “Die volgende geslag se mense, die kinders wat ná julle sal kom, en die mense van ander volke wat uit ver lande kom, sal sien wat in hierdie land gebeur het. Hulle sal sien hoe siek die Here almal gemaak het, en dan sal hulle sê:

23. ‘Die hele land het verbrand, daar is net swael en sout, niemand saai daar iets nie, daar groei niks, daar is niks gras nie. Dit lyk soos die stede Sodom, Gomorra, Adma en Sebojim, die Here het daardie stede verwoes toe Hy kwaad geword het vir daardie mense.’

24. “Die mense van ander volke sal vra: ‘Hoekom het die Here dit gedoen met hierdie land? Hoekom was Hy so kwaad?’

25. En die ander mense sal vir hulle sê: ‘Dit is omdat die mense van die land Israel die verbond gebreek het wat hulle God die Here met hulle gemaak het toe Hy hulle uit die land Egipte gebring het.

26. Hulle het ander gode gaan dien en hulle het voor die gode gebuig, gode wat hulle nie geken het nie en wat nie húlle gode was nie.

27. Die Here het kwaad geword en Hy het met die land alles laat gebeur wat Hy in hierdie boek gesê het.

28. Hy was baie kwaad, Hy het hulle weggevat van hulle grond en Hy het hulle in ’n ander land laat woon, hulle is vandag nog daar.’

29. Ons God die Here weet die dinge wat ons nie weet nie, en ons en ons kinders weet die dinge wat Hy vir ons gesê het: Ons moet altyd alles doen wat hierdie verbond sê.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 29