Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 28:27-41 Bybel vir Almal (ABA)

27. Die Here sal julle siek laat word van sere, soos in Egipte. Julle sal swere en aambeie kry, julle vel sal skurf word en jeuk en julle sal nie gesond word nie.

28. Die Here sal julle mal en blind en deurmekaar laat word.

29. Julle sal soos blinde mense wees, in die dag sal julle oral voel waar julle moet loop, soos mense in die donker, maar julle sal nie die regte pad kry nie. Mense sal julle laat swaarkry, hulle sal julle goed steel, en niemand sal julle help nie.

30. Jy sal verloof raak aan ’n vrou, maar ’n ander man sal seks hê met haar. Jy sal ’n huis bou, maar jy sal nie daarin woon nie. Jy sal ’n wingerd plant, maar jy sal nie die druiwe eet nie.

31. Jy sal sien dat iemand jou bees slag en jy sal nie van die vleis eet nie. Jy sal sien dat iemand jou donkie vat en jy sal nie die donkie terugkry nie. Jou vyande sal jou skape en bokke vat, en niemand sal jou help nie.

32. Jy sal sien dat ander mense jou kinders vat, jy sal elke dag na hulle verlang, maar jy sal niks kan doen nie.

33. Mense wat jy nie ken nie, sal alles eet wat jy geplant het en wat jy oes, alles waarvoor jy gewerk het. Hulle sal aanhou om jou te laat swaarkry en om jou te verdruk.

34. Jy sal mal word van alles wat jy sien.

35. Die Here sal jou siek maak, jy sal lelike sere op jou knieë en op jou bene kry. Jy sal nie gesond word nie, van jou voete tot by jou kop.

36. Jy het ’n koning gekies en aangestel. Die Here sal jou en daardie koning stuur na ’n volk toe wat jy nie geken het nie, jy en jou voorvaders het hulle nie geken nie. En daar sal jy ander gode dien, gode van hout en klip.

37. Die Here sal jou na ander volke toe neem, en al daardie volke sal skrik wanneer hulle jou sien, hulle sal praat oor jou en hulle sal jou spot.

38. Jy sal baie saad na die land neem om te saai, maar jy sal min saad op die land bymekaarmaak wanneer jy die koring of die gars afsny, want die sprinkane sal alles opvreet.

39. Jy sal wingerde plant en jy sal in hulle werk, maar jy sal nie druiwetrosse afsny of wyn drink nie, want die wurms sal dit opvreet.

40. Jy sal olyfbome oral in jou land hê, maar jy sal nie olyf-olie hê om aan jou te smeer nie, want die olywe sal afval.

41. Jy sal kinders kry, maar hulle sal nie aan jou behoort nie, want vyande sal hulle vang en wegvat.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 28