Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 28:22-37 Bybel vir Almal (ABA)

22. Die Here sal julle siek maak, julle sal tering en koors kry, julle sal sere kry en opswel. Dit sal baie warm en droog word, daar sal siektes in die koring kom, en dit sal aanhou totdat julle almal gesterf het.

23. Die hemeldak bo julle sal soos ’n brons dak word, en die aarde onder julle sal so hard soos yster word.

24. Die Here sal die reën van julle land soos poeier laat word, daar sal stof uit die lug val totdat julle almal gesterf het.

25. Die Here sal julle laat verloor teen julle vyande. Julle sal op een pad gaan om hulle aan te val, maar julle sal op sewe paaie wegvlug van hulle. Al die lande op die aarde sal bang word wanneer hulle kyk na julle.

26. Die voëls en die wilde diere sal julle lyke vreet, en niemand sal hulle wegjaag nie.

27. Die Here sal julle siek laat word van sere, soos in Egipte. Julle sal swere en aambeie kry, julle vel sal skurf word en jeuk en julle sal nie gesond word nie.

28. Die Here sal julle mal en blind en deurmekaar laat word.

29. Julle sal soos blinde mense wees, in die dag sal julle oral voel waar julle moet loop, soos mense in die donker, maar julle sal nie die regte pad kry nie. Mense sal julle laat swaarkry, hulle sal julle goed steel, en niemand sal julle help nie.

30. Jy sal verloof raak aan ’n vrou, maar ’n ander man sal seks hê met haar. Jy sal ’n huis bou, maar jy sal nie daarin woon nie. Jy sal ’n wingerd plant, maar jy sal nie die druiwe eet nie.

31. Jy sal sien dat iemand jou bees slag en jy sal nie van die vleis eet nie. Jy sal sien dat iemand jou donkie vat en jy sal nie die donkie terugkry nie. Jou vyande sal jou skape en bokke vat, en niemand sal jou help nie.

32. Jy sal sien dat ander mense jou kinders vat, jy sal elke dag na hulle verlang, maar jy sal niks kan doen nie.

33. Mense wat jy nie ken nie, sal alles eet wat jy geplant het en wat jy oes, alles waarvoor jy gewerk het. Hulle sal aanhou om jou te laat swaarkry en om jou te verdruk.

34. Jy sal mal word van alles wat jy sien.

35. Die Here sal jou siek maak, jy sal lelike sere op jou knieë en op jou bene kry. Jy sal nie gesond word nie, van jou voete tot by jou kop.

36. Jy het ’n koning gekies en aangestel. Die Here sal jou en daardie koning stuur na ’n volk toe wat jy nie geken het nie, jy en jou voorvaders het hulle nie geken nie. En daar sal jy ander gode dien, gode van hout en klip.

37. Die Here sal jou na ander volke toe neem, en al daardie volke sal skrik wanneer hulle jou sien, hulle sal praat oor jou en hulle sal jou spot.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 28