Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 24:9-21 Bybel vir Almal (ABA)

9. Julle moet onthou wat julle God die Here met Mirjam gedoen het toe julle uit Egipte gekom het.

10. “Wanneer jy vir iemand iets leen, dan mag jy nie in sy huis ingaan om iets te vat omdat hy die geld vir jou skuld nie.

11. Jy moet buite wag, die man wat geld van jou geleen het, moet vir jou iets buitetoe bring omdat hy geld vir jou skuld.

12. As hy ’n baie arm mens is, en jy het sy bo-kleed gevat omdat hy die geld vir jou skuld, dan mag jy nie in sy bo-kleed slaap nie.

13. Jy moet sy bo-kleed teruggee wanneer die son ondergaan sodat hy daarin kan slaap en sodat hy jou kan seën. Jou God die Here sal dan tevrede wees dat jy reg doen.

14. “Jy mag nie die beloning hou wat ’n dagloner moet kry nie, dit maak nie saak of dit ’n arm Israeliet is wat niks het nie, of ’n vreemdeling wat in jou land woon in een van jou stede nie.

15. Jy moet sy beloning elke dag gee voordat die son ondergaan, want hy is arm en hy moet die geld gebruik om te lewe. As jy dit nie doen nie, dan sal hy tot die Here bid, en die Here sal jou straf oor daardie sonde.

16. “Julle mag nie ’n pa doodmaak omdat sy kind verkeerd gedoen het nie, en julle mag nie kinders doodmaak omdat hulle pa iets verkeerd gedoen het nie. Elkeen moet sterf oor dit wat hyself verkeerd gedoen het.”

17. “Jy moet reg doen aan vreemdelinge en weeskinders, en jy mag nie ’n weduwee se klere vat as sy geld vir jou skuld nie.

18. Jy moet onthou dat jy ’n slaaf was in Egipte en dat jou God die Here jou daar losgekoop het. Daarom sê ek jy moet hierdie ding doen.

19. Wanneer jy jou koring afsny in jou koringland, en jy los ’n koring-aar in die land, dan mag jy nie teruggaan om die koring-aar te gaan haal nie. Jy moet dit daar los vir die vreemdeling en die weeskind en die weduwee. Dan sal jou God die Here dit goed laat gaan met alles wat jy doen.

20. Wanneer jy die vrugte van jou olyfbome afslaan, dan mag jy nie weer gaan om die olywe te pluk wat agter jou oorgebly het nie. Jy moet dit daar los vir die vreemdeling en die weeskind en die weduwee.

21. Wanneer jy die druiwe in jou wingerd pluk, dan mag jy nie weer gaan om die trosse te pluk wat agter jou oorgebly het nie. Jy moet dit daar los vir die vreemdeling en die weeskind en die weduwee.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 24