Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 22:7-21 Bybel vir Almal (ABA)

7. Jy mag die kleintjies of die eiers vir jouself vat, maar jy moet die ma laat gaan, jy móét dit doen. Dan sal dit goed gaan met jou, en jy sal lank lewe.”

8. “Wanneer jy ’n nuwe huis bou, dan moet jy ’n muurtjie op die kante van die dak bou. As jy dit nie doen nie, en iemand val van die dak af, dan sal jy skuldig wees wanneer hy sterf.”

9. “Jy mag nie ander plante in jou wingerd saai nie. As jy dit doen, dan wy jy alles in jou wingerd aan die Here, die saad van die plante wat jy gesaai het, én die druiwe. Jy moet dan alles vir die Here gee.”

10. “Jy mag nie ’n bees en ’n donkie saam inspan om jou ploeg te trek nie.”

11. “Jy mag nie klere dra wat jy saam geweef het van wol-garing en linne-garing nie.

12. Jy moet tossels vaswerk aan die vier hoeke van jou bo-kleed.”

13. “’n Man trou miskien met ’n vrou en hy het seks met haar en dan hou hy nie meer van haar nie.

14. Hy beskuldig haar en hy praat sleg van haar en sê: ‘Ek het getrou met hierdie vrou en toe ek seks gehad het met haar, het ek gesien dat sy nie ’n maagd was nie.’

15. “Dan moet die vrou se pa en ma vir die leiers in die stad se poort gaan wys dat hulle dogter ’n maagd was.

16. Die pa van die vrou moet vir die leiers sê: ‘Ek het my dogter vir hierdie man gegee om sy vrou te wees, maar hy hou nie meer van haar nie.

17. Hy beskuldig haar en hy sê hy het gesien dat sy nie ’n maagd was nie. Maar hier wys ek nou vir julle dat sy ’n maagd was.’“En dan moet die ouers die vrou se bo-kleed wys waarop sy en haar man die eerste nag geslaap het.

18. Die leiers van daardie stad moet dan die man straf.

19. Hulle moet hom 100 sikkels silwer boete laat betaal en hulle moet die geld vir die pa van die vrou gee, want die man het sleg gepraat van ’n jong vrou van die volk Israel. Die man moet dan die vrou altyd hou, hy mag nie van haar skei nie.

20. Maar as die man reg was, en hulle vind uit dat die vrou nie ’n maagd was nie,

21. dan moet hulle die vrou na haar pa se huis bring, en die mans van die stad moet haar doodgooi met klippe. Sy het ’n verkeerde ding gedoen, sy het skande gebring in die volk Israel. Sy het in haar pa se huis seks gehad met ander mans. En julle moet duidelik wys dat julle nie skuldig is saam met haar nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 22