Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 17:1-13 Bybel vir Almal (ABA)

1. Moses het gesê: “Julle mag nie vir julle God die Here ’n bul of ’n skaap-ram offer wat gebreklik is of wat ’n siekte het nie, want julle God die Here sal so ’n offer haat.”

2. “In een van die woonplekke wat julle God die Here vir julle gee, sal daar miskien ’n man of ’n vrou wees wat dinge doen waarvan die Here nie hou nie en die man of die vrou sal verkeerd doen teen die verbond van die Here.

3. Die persoon sal miskien ander gode gaan dien en voor hulle buig, hy sal buig vir die son of vir die maan of vir al die sterre in die lug. Ek het gesê julle mag dit nie doen nie.

4. Wanneer iemand dit vir jou sê of jy hoor dit, dan moet jy seker maak of dit waar is, jy moet uitvind of daar regtig so iets in die land Israel gebeur, iets wat die Here haat.

5. As dit regtig gebeur het, dan moet jy daardie man of vrou wat verkeerd gedoen het, uitbring na ’n poort, en jy moet die man of die vrou doodgooi met klippe.

6. Maar julle mag dit net doen as twee of drie getuies gesê het dit is waar dat hy verkeerd gedoen het, hy mag nie sterf as daar net een getuie is nie.

7. Die getuies moet die eerste klippe gooi om die persoon dood te maak, daarna moet die ander mense gooi. Julle moet duidelik wys dat julle nie saam met die persoon skuldig is nie.”

8. “Miskien is dit baie moeilik wanneer julle moet oordeel en moet besluit of iemand ’n ander persoon vermoor het, wanneer julle moet sê of iemand reg is of verkeerd is, en moet sê of iemand ’n ander persoon eerste aangeval en seergemaak het. Wanneer julle oor dinge moet besluit in julle woonplekke, en dit is vir julle moeilik om te besluit, dan moet julle dadelik gaan na die plek wat julle God die Here vir Hom sal kies, waar julle Hom moet aanbid.

9. Daar moet julle vir die priesters van die nageslag van Levi en vir die regter wat daardie tyd daar is, vra wat julle moet doen, en hy sal vir julle sê wat julle moet besluit.

10. Hulle sal dit vir julle sê op daardie plek wat die Here sal kies, en julle moet dit dan alles doen, julle moet presies doen wat hulle vir julle sê.

11. Hulle sal vir julle sê wat die wette van die Here sê en wat julle moet besluit, en julle moet dit so doen. Julle moet alles doen wat hulle vir julle sê, julle moet dit presies so doen.

12. ’n Persoon wat opstandig is en wat nie luister na die regter of na die priester wat daar vir die Here moet werk nie, moet sterf. So sal julle duidelik wys dat die ander Israeliete nie saam met die persoon skuldig is nie.

13. Al die mense moet dit hoor en hulle moet bang word, sodat nie een van hulle weer opstandig sal wees nie.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 17