hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 17 Bybel vir Almal (ABA)

Die Israeliete mag net diere offer wat heeltemal gesond is

1. Moses het gesê: “Julle mag nie vir julle God die Here ’n bul of ’n skaap-ram offer wat gebreklik is of wat ’n siekte het nie, want julle God die Here sal so ’n offer haat.”

Mense wat ander gode dien, moet sterf

2. “In een van die woonplekke wat julle God die Here vir julle gee, sal daar miskien ’n man of ’n vrou wees wat dinge doen waarvan die Here nie hou nie en die man of die vrou sal verkeerd doen teen die verbond van die Here.

3. Die persoon sal miskien ander gode gaan dien en voor hulle buig, hy sal buig vir die son of vir die maan of vir al die sterre in die lug. Ek het gesê julle mag dit nie doen nie.

4. Wanneer iemand dit vir jou sê of jy hoor dit, dan moet jy seker maak of dit waar is, jy moet uitvind of daar regtig so iets in die land Israel gebeur, iets wat die Here haat.

5. As dit regtig gebeur het, dan moet jy daardie man of vrou wat verkeerd gedoen het, uitbring na ’n poort, en jy moet die man of die vrou doodgooi met klippe.

6. Maar julle mag dit net doen as twee of drie getuies gesê het dit is waar dat hy verkeerd gedoen het, hy mag nie sterf as daar net een getuie is nie.

7. Die getuies moet die eerste klippe gooi om die persoon dood te maak, daarna moet die ander mense gooi. Julle moet duidelik wys dat julle nie saam met die persoon skuldig is nie.”

Wanneer dit moeilik is om te oordeel

8. “Miskien is dit baie moeilik wanneer julle moet oordeel en moet besluit of iemand ’n ander persoon vermoor het, wanneer julle moet sê of iemand reg is of verkeerd is, en moet sê of iemand ’n ander persoon eerste aangeval en seergemaak het. Wanneer julle oor dinge moet besluit in julle woonplekke, en dit is vir julle moeilik om te besluit, dan moet julle dadelik gaan na die plek wat julle God die Here vir Hom sal kies, waar julle Hom moet aanbid.

9. Daar moet julle vir die priesters van die nageslag van Levi en vir die regter wat daardie tyd daar is, vra wat julle moet doen, en hy sal vir julle sê wat julle moet besluit.

10. Hulle sal dit vir julle sê op daardie plek wat die Here sal kies, en julle moet dit dan alles doen, julle moet presies doen wat hulle vir julle sê.

11. Hulle sal vir julle sê wat die wette van die Here sê en wat julle moet besluit, en julle moet dit so doen. Julle moet alles doen wat hulle vir julle sê, julle moet dit presies so doen.

12. ’n Persoon wat opstandig is en wat nie luister na die regter of na die priester wat daar vir die Here moet werk nie, moet sterf. So sal julle duidelik wys dat die ander Israeliete nie saam met die persoon skuldig is nie.

13. Al die mense moet dit hoor en hulle moet bang word, sodat nie een van hulle weer opstandig sal wees nie.”

Die koning van die Israeliete moet reg lewe

14. “Wanneer julle by die land kom wat julle God die Here vir julle gee, sal julle die land vir julleself vat en julle sal daar gaan woon. Julle sal dan sê julle wil ’n koning kies en aanstel soos al die ander volke doen wat rondom julle woon.

15. Dan moet julle ’n koning aanstel, maar dit moet die koning wees wat julle God die Here sal kies. Julle moet een van julle eie mense aanstel om koning oor julle te wees, julle mag nie iemand aanstel wat nie ’n Israeliet is nie.

16. “En die koning moenie baie perde wil hê nie, en hy mag nie die volk terugneem na die land Egipte om baie perde vir homself te kry nie. Die Here het gesê julle moenie weer op daardie pad gaan nie.

17. En ook, die koning moenie vir hom baie vroue neem en dan ophou om die Here te dien nie. En hy moenie baie silwer en goud wil hê nie.

18. Wanneer hy koning word, dan moet hy hierdie wette oorskryf vir homself. Die wette is by die priesters van die nageslag van Levi.

19. Die koning moet die wette altyd by hom hê en hy moet dit elke dag lees, sodat hy kan leer om sy God die Here te respekteer en om aan te hou om alles te doen wat die wette sê.

20. Die koning moenie hoogmoedig wees en hom verbeel dat hy beter is as die ander Israeliete nie. Hy moet presies doen wat die wette sê, sodat hy en sy seuns ná hom lank sal regeer oor die Israeliete.”