Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 14:3-22 Bybel vir Almal (ABA)

3. “Julle mag nie iets eet wat die Here haat nie.

4. Julle mag net hierdie diere se vleis eet: beeste, skape, bokke,

5. rooi takbokke, gaselle, vaal takbokke, klipbokke, oer-osse, bergbokke.

6. Julle mag die vleis eet van enige dier wat gesplete hoewe het en wat sy kos herkou.

7. Maar julle mag nie die vleis eet van diere wat herkou maar wat nie gesplete hoewe het nie, ook nie die vleis van diere wat gesplete hoewe het maar wat nie herkou nie. Kamele en hase en dassies herkou maar hulle het nie gesplete hoewe nie. Hulle is onrein vir julle.

8. Varke het gesplete hoewe, maar hulle herkou nie. Hulle is onrein vir julle. Julle mag nie hierdie diere se vleis eet nie en julle mag nie aan hulle dooie liggame raak nie.

9. Julle mag al die diere in die water eet wat vinne en skubbe het,

10. maar julle mag niks eet wat nie vinne en skubbe het nie, dit is onrein vir julle.

11. Julle mag die vleis van enige rein voël eet.

12-18. Die voëls wat julle nie mag eet nie, is: arende, aasvoëls, vis-arende, valke, kraaie, volstruise, seemeeue, uile, pelikane, visvangers, duikers, ooievaars, reiers, hoep-hoepe, en ook vlermuise.

19. Al die insekte wat vlerke het, is onrein vir julle, julle mag dit nie eet nie.

20. Julle mag net rein voëls eet.

21. “Julle mag nie die vleis eet van enige dier wat self gevrek het nie, julle mag dit vir die vreemdelinge gee wat by julle woon sodat hulle dit kan eet. Of julle mag daardie vleis verkoop aan mense wat nie Israeliete is nie. Hoekom? Want julle is die gewyde volk van julle God die Here.“Julle mag nie ’n bok-lam kook in sy ma se melk nie.”

22. “Julle moet elke jaar een tiende van alles wat julle geplant het en wat julle uit die grond kry, apart hou.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 14