Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 1:29-42 Bybel vir Almal (ABA)

29. “Ek het vir julle gesê: ‘Nee, julle moenie skrik vir hierdie mense nie, julle moenie bang wees nie.

30. Julle God die Here loop voor julle, Hý sal julle help en Hy sal die oorlog vir julle veg, julle het gesien hoe Hy dit gedoen het in die land Egipte

31. en in die woestyn. Kan julle onthou hoe julle God die Here vir julle gedra het? Hy het julle gedra soos ’n man sy kind dra. Die Here het dit gedoen op die hele pad waarop julle geloop het, tot hier.’

32. “Ek het dit vir julle gesê, maar julle het nog nie geglo dat die Here julle sal lei nie,

33. die Here wat vir julle op die pad gelei het en wat gekyk het waar julle die tente kan opslaan, die Here wat vir julle gewys het waar die pad is. In die nag het Hy dit met ’n vuur gewys en in die dag met ’n wolk.

34. Toe die Here hoor wat julle sê, het Hy kwaad geword. Hy het gesê:

35. ‘Nie een van hierdie manne sal die goeie land sien wat Ek vir hulle voorvaders belowe het nie, niemand van hierdie slegte geslag nie. Dit is seker, so seker soos Ek lewe.

36. Net Kaleb seun van Jefunne sal die land sien. Ek sal vir hom en sy kinders die land gee waar hy geloop het, want hy het aangehou om in die Here te glo.’

37. “Die Here het vir my ook kwaad geword oor julle. Hy het vir my gesê: ‘Jy sal ook nie in die land kom nie.

38. Josua seun van Nun, die man wat vir jou werk, hý sal in die land kom. Jy moet hom sterk maak en vir hom leer om die werk te kan doen wat hy moet doen, want hy sal die Israeliete lei om die land vir hulleself te vat.

39. Julle kinders sal ook in die land ingaan. Julle het gesê die Amoriete sal julle kinders vang en wegvat, maar julle kinders sal in die land ingaan, julle kinders wat nou nie weet wat reg is en wat verkeerd is nie. Ek sal die land vir hulle gee, en hulle sal dit vir hulleself vat.

40. Maar julle, julle moet weggaan en na die woestyn gaan op die pad na die Riet-see.’

41. “Julle het toe vir my gesê: ‘Ons het verkeerd gedoen teen die Here, ons sal self oorlog gaan maak, ons sal doen wat die Here vir ons gesê het.’“En toe het julle al julle wapens geneem, julle het gedink julle sal maklik in die Bergland kan ingaan.

42. Maar die Here het vir my gesê: ‘Jy moet vir hulle sê: Julle moenie oorlog gaan maak nie, want Ek sal nie by julle wees nie, en julle sal verloor teen julle vyande.’

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 1