Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 6:1-9 Bybel vir Almal (ABA)

1. Dawid het gesê al die belangrike manne in die land Israel moet bymekaarkom.

2. Hy en al die manne het gereedgemaak en hulle het na die stad Baäl in Juda gegaan om die verbondskis daar te gaan haal. Dit is die kis van God, die kis wat sy Naam het, die Naam van die Here wat oor alles regeer. Sy troon is bokant die gerubs.

3. Hulle het die kis van God uit die huis van Abinadab op die heuwel geneem en hulle het dit op ’n nuwe wa gesit. Ussa en Agjo, die seuns van Abinadab, het die beeste gedryf wat die wa getrek het.

4. Agjo het voor die kis geloop.

5. Dawid en al die leiers van Israel het voor die verbondskis gespeel op musiek-instrumente van sipreshout, op liere en harpe en ratels en simbale.

6. Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, het die beeste amper geval en Ussa het sy hand uitgesteek om die kis van God vas te hou.

7. Dit was ’n fout. Die Here het kwaad geword vir Ussa en Hy het vir Ussa daaroor gestraf. Ussa het daar by die kis van God gesterf.

8. Dawid was baie geskok en ontsteld omdat die Here vir Ussa laat sterf het. Dawid het daardie plek genoem “Peres-Ussa,” en dit is vandag nog die plek se naam.

9. Dawid het daardie dag baie bang geword vir die Here. Dawid het gesê: “Ek kan nie die kis van die Here na my toe laat kom nie.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 6