Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 21:11-17 Bybel vir Almal (ABA)

11. Dawid het gehoor wat Rispa dogter van Aja gedoen het. Rispa was ’n byvrou van Saul.

12. Dawid het toe die bene van Saul en Jonatan laat haal. Die leiers van die stad Jabes-Gilead het die bene gaan steel op die oop stuk grond in die stad Bet-San. Die Filistyne het Saul en Jonatan se liggame daar opgehang nadat hulle vir Saul op Gilboa-berg oorwin het.

13. Dawid het die bene van Saul en Jonatan laat bring en hy het ook die bene van die manne wat hulle opgehang het, laat bymekaarmaak.

14. Dawid het dit laat begrawe in die land Benjamin, in die graf van Kis, Saul se pa. Die graf was in ’n rots. Nadat die koning dit alles laat doen het, het God weer geluister na die gebede vir die land.

15. Daar was weer oorlog tussen die Filistyne en die Israeliete. Toe Dawid eendag saam met sy manne teen die Filistyne gaan veg het, het hy moeg geword.

16. Een van die Filistyne was Jisbi-Benob, hy was van die nageslag van die Rafa-mense. Sy spies was van brons en dit het 300 sikkels geweeg. Hy het ook ’n nuwe swaard gehad. Hy wou vir Dawid doodmaak,

17. maar Abisai seun van Seruja het vir Dawid gehelp en hy het die Filistyn plat geslaan en hom doodgemaak. Die manne van Dawid het toe vir hom gesê: “So seker soos die Here lewe, jy sal nie weer saam met ons oorlog gaan maak nie. Jy is die lamp wat vir Israel lig gee, en niemand mag die lamp doodmaak nie.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 21