Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 2:21-32 Bybel vir Almal (ABA)

21. Toe sê Abner vir Asael: “Jy moet wegdraai en jy moet met een van die jongmanne veg, dan kan jy sy wapens en klere vir jouself vat.”Maar Asael wou nie wegdraai agter Abner nie.

22. Abner het weer gesê: “Jy moet wegdraai agter my. Ek wil jou nie doodmaak nie, want dan sal ek nie in jou broer Joab se oë kan kyk nie.”

23. Maar Asael wou nie wegdraai nie, en Abner het hom toe met die agterkant van sy spies deur sy maag gesteek. Die spies het by Asael se rug uitgekom, en hy het daar geval en gesterf. Elkeen wat by die plek gekom het waar Asael geval en gesterf het, het gaan staan.

24. Joab en Abisai het aangehou om vir Abner te jaag. Die son het ondergegaan toe hulle by die Elmboog-heuwel kom, naby die fontein langs die pad na die Gibeon-woestyn.

25. Die Benjamin-manne het by Abner bymekaargekom en hulle het daar bo-op die heuwel saam gereedgestaan om te veg.

26. Maar Abner het vir Joab geskree: “Moet ons aanhou om mekaar dood te maak? Jy moet dit weet: Alles sal slegter en slegter word as ons aanhou veg. Wanneer sal jy vir jou manne sê hulle moenie aanhou om hulle broers te jaag nie?”

27. Joab het toe gesê: “As jy nie gepraat het nie, dan sou die manne aangehou het om hulle broers te jaag tot die oggend toe. Dit is so seker soos God lewe.”

28. Joab het die ramshoring geblaas, en al die manne het gaan staan. Hulle het nie meer die Israel-manne gejaag en aangehou veg nie.

29. Abner en sy manne het daardie hele nag deur die Jordaan-vallei geloop. Hulle het oor die rivier gegaan en hulle het die volgende middag by die stad Maganajim gekom.

30. Nadat Joab opgehou het om vir Abner te jaag, het hy al die manne laat bymekaarkom. Negentien van Dawid se manne was nie daar nie, en Asael was ook nie daar nie.

31. Maar Dawid se manne het 360 van Abner se manne doodgemaak.

32. Hulle het Asael opgetel en hom begrawe in sy pa se graf in Betlehem. Joab en sy manne het die hele nag geloop en hulle het in Hebron gekom toe dit lig word.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 2