Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 19:18-35 Bybel vir Almal (ABA)

18. Hulle het deur die rivier gegaan om die huisgesin van die koning deur die rivier te bring en om te doen wat hy wil hê. Toe die koning deur die Jordaan-rivier gekom het, het Simeï seun van Gera voor hom kom lê

19. en hy het vir die koning gesê: “Meneer moet my asseblief nie straf oor die verkeerde ding wat ek gedoen het toe Meneer die koning uit Jerusalem moes gaan nie. Meneer moenie daaraan dink en kwaad bly vir my nie.

20. Ek weet ek het sonde gedoen, en daarom het ek vandag eerste afgekom om die koning te ontmoet. Ek was voor die Josef-stamme hier.”

21. Abisai seun van Seruja het gesê: “Simeï moet sterf, want hy het die gesalfde van die Here vervloek.”

22. Maar Dawid het gesê: “Seuns van Seruja, hoekom sê julle dit vir my? Wil julle my vandag verkeerd laat doen? Ons maak vandag niemand dood in die land Israel nie, want ek weet ek is vandag koning van Israel.”

23. Die koning het vir Simeï gesê: “Jy sal nie sterf nie.”Die koning het dit belowe en hy het gesê die Here is getuie.

24. Mefiboset kleinseun van Saul het ook vir Dawid kom ontmoet. Vandat die koning weg is totdat hy veilig teruggekom het, het Mefiboset nie sy voete gewas of sy baard geknip of sy klere gewas nie.

25. Toe hy in Jerusalem gekom het om die koning te ontmoet, het die koning vir hom gevra: “Mefiboset, hoekom het jy nie saam met my gekom nie?”

26. Mefiboset sê toe: “Meneer die koning, die man wat my moet help, het my gelos. My bene is verlam, en ek het gesê hy moet vir my ’n donkie opsaal sodat ek kan ry en saam met die koning kan gaan.

27. En hy het ook nog geskinder oor my by Meneer die koning, maar Meneer die koning is soos ’n engel van God, jy moet doen wat jy dink is reg.

28. Jy kon my en my hele familie doodgemaak het, maar jy het my aan jou tafel laat eet. Ek kan niks meer vra nie, ek kan net vra dat die koning my moet help.”

29. Toe sê die koning vir Mefiboset: “Jy moenie nog iets sê nie. Ek sê jy en Siba moet die grond deel.”

30. Mefiboset het vir die koning gesê: “Meneer die koning, Siba mag alles kry, want jy het veilig teruggekom by jou huis.”

31. Barsillai van die land Gilead het van die stad Rogelim gekom om saam met die koning deur die Jordaan-rivier te gaan en hom te groet.

32. Barsillai was baie oud, hy was 80 jaar oud. Dit is hy wat vir die koning gesorg het terwyl die koning in Maganajim gewoon het. Hy kon dit doen, want hy was baie ryk.

33. Die koning het vir Barsillai gesê: “Jy moet saam met my kom, ek sal vir jou sorg in Jerusalem.”

34. Maar Barsillai het vir die koning gesê: “Ek sal nie meer lank lewe nie. Hoekom sal ek saam met die koning gaan?

35. Ek is nou 80 jaar oud. Ek weet nie meer wat is goed vir my en wat is nie goed nie, ek kan nie meer proe wat ek eet of drink nie, ek sal nie meer kan hoor wanneer mense sing nie. Dit sal vir die koning te veel wees om vir my te sorg.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 19