Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 16:5-15 Bybel vir Almal (ABA)

5. Toe koning Dawid by die stad Bagurim kom, het iemand van die familie van Saul uit die stad gekom. Dit was Simeï seun van Gera. Terwyl hy aankom, het Simeï aangehou om vir Dawid te vervloek.

6. Hy het vir Dawid met klippe gegooi, en ook al die amptenare van koning Dawid en al die mense en al die manne wat langs die koning geloop het.

7. Toe Simeï vir Dawid vervloek het, het hy gesê: “Gaan weg! Gaan weg! Jy is ’n moordenaar en ’n skurk!

8. Die Here straf jou nou omdat jy Saul se familie almal vermoor het toe jy koning geword het ná hom. Nou het die Here jou seun Absalom laat koning word ná jou. Hy het dit gedoen omdat jy ’n moordenaar is.”

9. Abisai seun van Seruja sê toe vir die koning: “Hoekom vervloek hierdie man vir Meneer die koning? Hy beteken niks, hy is soos ’n dooie hond. Mag ek sy kop gaan afkap?”

10. Maar die koning het gesê: “Seuns van Seruja, ek en julle kan niks doen wanneer hy my vervloek nie. Dit is die Here wat vir hom gesê het hy moet vir Dawid vervloek. Niemand kan nou vir hom vra hoekom hy dit doen nie.”

11. Dawid het vir Abisai en al die amptenare gesê: “Onthou, my eie seun wil hê ek moet sterf, daarom moet julle nou hierdie man van die Benjamin-stam los. Hy vervloek my omdat die Here gesê het hy moet dit doen.

12. Die Here sien hoe swaar ek kry, miskien sal Hy dit weer goed laat gaan met my nadat die man my vandag vervloek het.”

13. Dawid en sy manne het verder gegaan. Simeï het teen die kant van die berg langs die pad geloop en hy het aangehou om vir Dawid te vervloek en om klippe en stof na hulle te gooi.

14. Die koning en al die mense by hom was baie moeg toe hulle by die Jordaan-rivier aankom, en Dawid het daar ’n bietjie gerus.

15. Toe Absalom en al die manne van Israel in Jerusalem aankom, was Agitofel by hom.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 16