Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 11:17-24 Bybel vir Almal (ABA)

17. Die vyande het uit die stad gekom en hulle het teen Joab en die manne geveg. Party van Dawid se manne het gesterf, en Urija die Hetiet het ook gesterf.

18. Joab het vir Dawid ’n boodskap gestuur en hy het vir Dawid laat weet wat alles in die oorlog gebeur het.

19. Joab het vir die boodskapper gesê: “As jy klaar vir die koning vertel het wat alles in die oorlog gebeur het, dan sal hy kwaad word en vir jou sê:

20. ‘Hoekom het julle so naby die stad gaan veg? Julle weet die vyande is bo-op die muur en hulle skiet van daar af.

21. Wie het vir Abimelek seun van Jerub-Beset raakgegooi? Dit was ’n vrou wat bo-op die muur was en sy het van daar ’n maalklip op hom gegooi. So het Abimelek daar in Tebes gesterf. Hoekom het julle naby die muur gekom?’ Dan moet jy vir koning Dawid sê: ‘Urija die Hetiet is ook dood.’ ”

22. Die boodskapper het gegaan en hy het vir Dawid alles kom sê wat Joab vir hom gesê het.

23. Die boodskapper het vir Dawid gesê: “Regtig, die manne was baie sterker as ons. Hulle het uitgekom om ons aan te val in die veld, en ons het teruggeveg tot by die poort.

24. Die manne wat bo-op die muur was, skiet toe na ons met hulle pyle, en party van die koning se manne het gesterf. Urija die Hetiet is ook dood.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 11