Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 8:12-22 Bybel vir Almal (ABA)

12. Gasael het gevra: “Hoekom huil jy, Meneer?”En Elisa het gesê: “Ek huil omdat ek weet watter slegte dinge jy aan die mense van Israel sal doen. Jy sal hulle stede verbrand, hulle jongmanne doodmaak, hulle babas stukkend slaan en hulle vroue oopsny wat babas verwag.”

13. Gasael het gesê: “Ek is nie belangrik nie, ek is soos ’n hond wat niks beteken nie. Ek sal nie daardie slegte dinge doen nie.”En toe sê Elisa: “Die Here het vir my gewys dat jy die koning van die Arameërs sal word.”

14. Gasael het weggegaan van Elisa en hy het by sy koning gekom. Toe die koning vir hom vra wat Elisa gesê het, het hy gesê: “Hy het vir my gesê dat jy gesond sal word, dit is seker.”

15. Maar die volgende dag het Gasael ’n laken natgemaak en hy het dit oor Ben-Hadad se gesig vasgedruk sodat hy nie kon asemhaal nie. Ben-Hadad het gesterf en Gasael het toe koning geword in Ben-Hadad se plek.

16. Joram seun van Josafat het koning van Juda geword in die vyfde jaar nadat Joram seun van Agab koning van Israel geword het.

17. Joram seun van Josafat was 32 jaar oud toe hy in Jerusalem koning geword het, en hy was ag jaar lank koning.

18. Hy het verkeerd gelewe soos die konings van Israel, soos die familie van Agab, want hy was getroud met ’n dogter van Agab. Joram het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie.

19. Maar die Here wou nie hê dat almal in Juda moet sterf nie, want Hy het vir Dawid belowe dat daar altyd iemand van Dawid se nageslag koning sal wees in Jerusalem.

20. In die tyd toe Joram koning van Juda was, het die Edomiete opstandig geword teen Juda, en die Edomiete het vir hulleself ’n koning gekies en aangestel.

21. Joram het oorlogkarre geneem en hy het na die land Seïr gegaan. Die Edomiete het rondom hom en sy offisiere kom staan, hulle was gereed om oorlog te maak. Joram het hulle in die nag aangeval, maar sy manne het na hulle tente gevlug.

22. Die Edomiete is nou nog altyd vry, Juda regeer nie oor hulle nie. Die mense van die stad Libna het in dieselfde tyd ook opstandig geword.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 8