Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 5:6-12 Bybel vir Almal (ABA)

6. Hy het die brief vir die koning van Israel gebring. Die koning van Aram het in die brief geskryf: “As hierdie brief by jou kom, dan moet jy weet dit is ék wat my offisier Naäman na jou toe stuur. Jy moet hom gesond maak, hy is melaats.”

7. Toe die koning van Israel die brief lees, het hy sy klere geskeur en gesê: “Dink hy ek is God wat mense kan doodmaak of hulle kan laat lewe? Hoekom stuur hierdie man sy offisier wat melaats is na my toe sodat ek hom moet gesond maak? Julle kan sien hy wil vir my probleme gee.”

8. Elisa, die man van God, het gehoor dat die koning sy klere geskeur het, en hy het vir die koning ’n boodskap gestuur en vir hom gevra: “Hoekom skeur jy jou klere? Stuur Naäman na my toe, sodat hy kan weet daar is ’n profeet in die land Israel.”

9. Naäman het toe met sy perde en sy oorlogkar gekom en hy het gestop voor die deur van Elisa se huis.

10. Elisa stuur toe vir Naäman ’n boodskap en sê: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan-rivier, dan sal jou vel gesond word en jy sal weer rein wees.”

11. Naäman het kwaad geword en hy het gery. Hy het gesê: “Ek het gedink Elisa sal uitkom en by my kom staan. Ek het gedink hy sal sy hand oor die seerplekke beweeg en my gesond maak.

12. Die Abana-rivier en die Parpar-rivier van Damaskus is beter as al die water van Israel. As ek my in ’n rivier moet was om rein te word, dan kon ek dit daar gedoen het.”Naäman was baie kwaad en hy het weggery.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 5