Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 5:3-9 Bybel vir Almal (ABA)

3. Die dogtertjie het vir Naäman se vrou gesê: “As Meneer by die profeet Elisa in Samaria kan kom, dan sal die profeet hom gesond maak. Meneer sal dan nie meer melaats wees nie.”

4. Naäman het vir die koning gaan sê wat die dogtertjie sê wat van die land Israel kom,

5. en die koning van Aram het vir Naäman gesê: “Jy moet na Israel gaan, ek sal ’n brief saamstuur vir die koning van Israel.”Naäman het gegaan en hy het tien talente silwer, 6 000 sikkels goud en klere vir tien mense saamgeneem.

6. Hy het die brief vir die koning van Israel gebring. Die koning van Aram het in die brief geskryf: “As hierdie brief by jou kom, dan moet jy weet dit is ék wat my offisier Naäman na jou toe stuur. Jy moet hom gesond maak, hy is melaats.”

7. Toe die koning van Israel die brief lees, het hy sy klere geskeur en gesê: “Dink hy ek is God wat mense kan doodmaak of hulle kan laat lewe? Hoekom stuur hierdie man sy offisier wat melaats is na my toe sodat ek hom moet gesond maak? Julle kan sien hy wil vir my probleme gee.”

8. Elisa, die man van God, het gehoor dat die koning sy klere geskeur het, en hy het vir die koning ’n boodskap gestuur en vir hom gevra: “Hoekom skeur jy jou klere? Stuur Naäman na my toe, sodat hy kan weet daar is ’n profeet in die land Israel.”

9. Naäman het toe met sy perde en sy oorlogkar gekom en hy het gestop voor die deur van Elisa se huis.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 5