Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 2:16-25 Bybel vir Almal (ABA)

16. Hulle het vir hom gesê: “Luister asseblief, hier is 50 van ons manne, hulle is manne wat weet wat om te doen. Sê asseblief hulle moet jou meneer gaan soek. Miskien het ’n baie sterk wind hom opgetel en hom op een van die berge of in een van die valleie laat val.”Maar Elisa het gesê: “Nee, hulle moenie gaan nie.”

17. Die profete het aangehou om dit vir Elisa te vra, en hy het later nie geweet wat om te doen nie. Hy sê toe: “Goed, stuur hulle.”Hulle het die 50 manne gestuur, en hulle het drie dae lank na Elia gesoek, maar hulle het hom nie gekry nie.

18. Daarna het hulle teruggekom na Elisa toe. Elisa het in Jerigo gebly. Hy het vir hulle gesê: “Ek het gesê julle moenie gaan nie.”

19. Die leiers van die stad Jerigo het vir Elisa gesê: “Meneer, jy kan sien dat die stad op ’n mooi plek gebou is, maar die water hier is sleg en dit maak die grond onvrugbaar.”

20. Elisa het gesê: “Bring vir my ’n nuwe bak en gooi sout daarin.”Hulle het die bak en die sout gebring,

21. en Elisa het na die plek gegaan waar die water uit die grond kom. Hy het die sout in die water gegooi en gesê: “Die Here sê: Ek maak hierdie water gesond, dit sal nie meer die grond onvrugbaar maak en die plante laat doodgaan nie.”

22. Die water het gesond geword soos Elisa gesê het, en dit is tot vandag toe gesond.

23. Elisa het van die stad Jerigo na die stad Bet-El gegaan. Terwyl hy op die pad daarnatoe geloop het, het daar seuntjies uit die stad gekom. Hulle het hom gespot en gesê: “Loop, kaalkop! Loop, kaalkop!”

24. Elisa het omgedraai en hy het vir hulle gesê dat die Here hulle sal straf. En toe kom daar twee beer-wyfies uit die bos en hulle maak 42 van die seuntjies dood.

25. Elisa het van Bet-El na Karmel-berg gegaan en daarna het hy teruggegaan na Samaria.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 2