Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 18:19-32 Bybel vir Almal (ABA)

19. Die hoof-offisier het vir hulle gesê: “Julle moet vir koning Hiskia sê ons bring ’n boodskap van die groot koning, die koning van Assirië. Die koning vra vir Hiskia: Hiskia, dink jy iemand kan jou help?

20. Jy wil oorlog maak teen my, maar dit sal jou nie help om net te praat en planne te maak nie.

21. Jy dink nou Egipte sal jou help, maar Egipte is soos ’n riet-kierie wat gebreek het. As jy op die riet druk, dan steek dit jou hand stukkend. Die farao, die koning van Egipte, is soos ’n riet-kierie vir almal wat dink dat hy hulle sal help.

22. Julle sê vir my dat julle God die Here julle sal help, maar ek sê Hy sal dit nie doen nie, want Hiskia het julle God se offer-plekke en altare afgebreek. Hiskia het vir die mense van Juda en Jerusalem gesê hulle mag net bid by die brandoffer-altaar in Jerusalem.

23. Ek sal vir jou sê wat my koning sal doen, die koning van Assirië. Hy sal vir jou 2 000 perde gee as jy genoeg soldate het om op die perde te ry. Maar jy het nie genoeg soldate nie.

24. Jy kan nie ’n oorlog wen teen een goewerneur nie, teen een van die onbelangrikste amptenare van my koning nie. Maar nou dink jy Egipte kan jou help. Jy dink Egipte kan vir jou oorlogkarre en perde gee.

25. Jy moet ook weet dit is nie ék wat besluit het om hierdie land te verwoes nie. Dit is die Here wat vir my gesê het: ‘Jy moet daardie land gaan verwoes.’ ”

26. Eljakim en Sebna en Joag het vir die hoof-offisier gesê: “Jy moet asseblief Aramees praat met ons, dit is ’n taal wat ons verstaan. Jy moenie met ons Judees praat nie, want ons wil nie hê dat die mense op die muur moet verstaan wat jy sê nie.”

27. Die hoof-offisier het gesê: “My koning het my nie gestuur om hierdie boodskap net vir julle koning en vir julle te bring nie. Ek moet die boodskap ook bring vir hierdie mense wat op die muur sit. Hulle sal hulle eie mis moet eet en hulle eie urine moet drink, en julle sal dit ook moet doen.”

28. Toe gaan staan die hoof-offisier by die muur. Hy het Judees gepraat en hard gesê: “Julle moet hoor wat sê die groot koning, die koning van Assirië.

29. Die koning sê julle moenie dat Hiskia julle bedrieg nie. Hiskia kan julle nie red nie.

30. Hiskia sê julle moet glo dat die Here julle sal red, hy sê die koning van Assirië sal nie hierdie stad oorwin nie, dit is seker. Maar julle moenie vir Hiskia glo nie.

31. Julle moenie na hom luister nie, want die koning van Assirië sê: ‘Julle moet vrede maak met my en julle moet na my toe kom. Dan kan julle elkeen eers op sy eie grond bly en elkeen kan sy eie druiwe en vye eet en water drink uit sy eie put.

32. Later sal ek kom en ek sal julle wegvat na ’n land wat soos julle land is, ’n land waar daar koring en wyn is, ’n land waar daar kos en wingerde is, ’n land waar daar olyf-olie en heuning is. Ek sal dit doen sodat julle kan lewe en nie sal sterf nie. Julle moet oppas dat Hiskia julle nie bedrieg nie. Hy sê die Here sal julle red,

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 18